Verlede maand
‘Ek weier aborsie’
In die dock: Abigail Ruiters getuig oor haar omstandighede.  ~ Peter Abrahams

ABIGAIL Ruiters se verhouding met die pa van haar kinders, Wesley Timm, het geëindig toe hy in 2015 gejol het.

Ruiters was in daardie stadium swanger en hy wou hê sy moes ’n aborsie kry, maar sy het geweier.

So het sy Donderdag in die Kaapse hooggeregshof getuig.

Ruiters en Amee­rudien Peters staan tereg vir die moord op haar 17 maande oue seun, Jeremiah, en die mishandeling van sy twee ouer sussies, Kiana en Zara.

Ruiters het getuig Timm het uitgetrek en vier maande lank geen kontak met sy kinders gehad nie.

“Ek het hom aangegee vir non-support. Hy het in daai tyd teruggekom en weer met ons kom bly nadat hy my gevra het om die non-support-klag terug te trek,” het sy getuig.

“Hy het gesê hy sal my die geld gee, maar ek het geweier. Hy het die geld net ’n paar maande betaal.”

Gebreek

Ruiters het bygevoeg hy het kort daarna weer uitgetrek, maar het elke tweede week nog sy dogters kom haal, maar wou niks met Jeremiah te doen gehad het nie.

“As ek hom gevra het om ’n bietjie vir Jeremiah te vat, het hy geweier.

“Dit het my hart gebreek dat hy nie ’n verhouding met sy seun gehad het nie.”

Finansieel was dit nie maklik vir Ruiters om alleen na haar kinders om te sien nie.

Met ’n inkomste van R4 200 en al die aftrekkings by die werk, het dit haar tussen Januarie 2017 en Junie 2017 met amper niks gelos nie.

Sy kon nie meer bekostig om Jeremiah en Zara by die persoon te los wat na hulle omgesien het nie.

Toe Peters by haar ingetrek het kort nadat hulle mekaar in Oktober 2016 ontmoet het, het hy na die kinders begin omsien.

Volgens Ruiters het Peters nie gewerk nie.

“Die ooreenkoms tussen ons was dat hy na die kinders sou kyk terwyl ek sewe dae ’n week werk.

“Hy het ingestem omdat ek sonder child support en met my klein inkomste nie kon bekostig om hulle in ’n crèche te sit nie.”

Dit is aan haar gestel dat Peters, volgens hom, twee tot drie dae ’n week gewerk het.

“Nie wat ek van weet nie,” het sy geantwoord.

Ruiters het getuig Peters het net een keer vir haar geld gegee en dit was R100.

“Hy het gesê hy gaan na die kinders kyk en vir alles by die huis sorg. Ek het sewe dae ’n week gewerk om vir my kinders alles te gee wat ek nooit gehad het nie.”

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters