Verlede maand
’Ek weet net van bytmerk’
MA? Soos ’n slak wat sout kry, krimp Abigail Ruiters gister ineen by die hof.  ~ Peter Abrahams

NET soos Ameerudien Peters getuig het, weet die mammie Abigail Ruiters ook nou niks oor haar kind se veelvuldige beserings aan sy lyf en gesiggie nie.

Ruiters het wel aan die hof gesê dat sy net bewus was van die een besering aan sy skouer.

Volgens haar het Peters vir haar vertel van die merk en gesê dis ’n bytmerk wat deur een van haar dogters veroorsaak is.

Ruiters en Peters staan albei tereg vir die moord op haar 17 maande oue babaseuntjie, Jeremiah Ruiters, en die mishandeling van sy twee ouer sussies, Kiana en Zara.

Die kleintjie is op 12 Junie 2017 by die Factreton Kliniek dood verklaar nadat Peters met hom daar opgedaag het.

Ruiters, wat laas week haar plek in die getuiebank geneem het om oor haar kant te getuig, het aanvanklik geweier om na foto’s van die nadoodse ondersoek te kyk.

“Ek wil niks foto’s sien nie. Ek gaan nie kyk nie,” het sy getuig.

Regter Monde Samela het aan die staatsaanklaer, adv. Maria Marshall, gevra dat sy die fotobewyse gelyktydig aan Ruiters wys om die emosionele trauma wat sy ervaar tot die minimum te beperk.

Dis toe dat Ruiters instem om na die foto’s te kyk en kommentaar daarop te lewer.

Lank

Marshall het foto’s van Jeremiah se gesig en gedeeltes van sy liggaam, insluitend sy kop, gesig, maag, skouers en arms aan Ruiters gewys.

Daar is ou en nuwe beserings aan Ruiters uitgewys en haar kommentaar is daarop gevra.

Sy het getuig sy weet nie hoe die ou en nuwe beserings veroorsaak is nie.

Sy het oor en oor op elke foto wat aan haar gewys is gesê dat sy nie weet nie en dat dit te lank terug is.

Sy het ook getuig oor sy kop- en nekbeserings dat sy dit nie gesien het nie, omdat die kind se hare baie lank was.

Toe dit kom by die bytmerk aan sy arm, het sy getuig dat Peters haar dogter Zara daarvoor blameer het. Toe sy egter vir Zara daaroor vra, het die kind gesê hy lieg.

“Ek weet net van die bytmerk, maar die ander kan ek nie sê nie.

“Hy het die kind gebad,” het sy weer getuig.

Die saak gaan môre voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters