2 maande gelede
‘Ek versteek moordkar’
afskeid: Pa Bradley Robyn by die begrafnis van sy babadogter.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

VYF ander sal steeds moet staan vir die moord op baba Zahnia Woodward (6 maande).

Simaney Kindo (28) het nou skuldig gepleit op ’n klag van dwarsboming van die gereg. Dit hou haar nou vir eers uit die beskuldigdebank in die hof.

Maar Christopher September, Larry Johnson, Tashwill Kriel, Morné May en Mariam Johnson staan steeds tereg vir die moord op die babameisie.

Sy het ten tyde van haar dood twee jaar gelede in Ocean View op haar pa se skoot gesit.

Kindo het luidens die klagstaat gereël om die voertuig wat betrokke was by die skietvoorval, op die dag waarop die moord gepleeg is, weg te steek.

Vrydag 29 Desember 2016 sal altyd vir die familie ’n tragiese dag wees.

Dit was toe hul mooi baba en haar pa, Bradley Robyn, in die bendes se kruisvuur beland het.

STERF: Baba Zahnia Woodward is twee jaar gelede in Ocean View doodgeskiet. FOTO verskaf

Die baba is in die agterkop getref en die koeël het glo by haar voorkop uitgekom.

Sy is by haar aankoms by die Rooi Kruis-kinderhospitaal dood verklaar.

Kindo het beken dat sy die wit Volkswagen Golf wat in die misdaad gebruik is, weggesteek het.

Dis gedoen met die doel om ontslae te raak van die voertuig en ook om forensiese bewyse te vernietig.

In die pleit­ooreenkoms het sy só beken: “Ek het gereël dat mense my help om die voertuig te skuif en ons het na Luntu-weg in Masiphumelele gegaan waar ons die kar gekry het.

“Nadat ons die sleutel gekry het, het ons die kar na verskeie plekke geskuif om dit te versteek.

“Ek het ook die allooi­wiele van die voertuig verwyder om sy voorkoms te verander, aangesien die polisie die voertuig met sy allooiwiele kon identifiseer.”

Sy erken voorts dat sy bewyse vernietig het met die doel om die uitslag van ’n kriminele ondersoek of hofsaak te beïnvloed.

Kindo pleit dat sy nie geweet het wat die besonderhede is van die misdaad waarin die motor gebruik is nie. Volgens haar het sy eers later uitgevind dat dit in ’n skietvoorval gebruik is waarin klein Zahnia doodgeskiet is.

“My gedrag in die omstandighede was onwettig en is strafbaar deur die wet,” beken sy.

Robyn is toegelaat om voorstelle te maak in die pleitooreenkoms en die bepalings. Die ooreenkoms is dat sy vier jaar gevangenisstraf kry daarvoor.

Die moordsaak teen die ander beskuldigdes gaan steeds voort.

Volg Astrid Februarie op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters