13 dae gelede
‘Ek ken daai pyn’
BLY HOOP: Katherine Langenhoven (59) met ’n vergeelde foto van haar verdwene dogter, Florencia.  ~ Jonathan Lestrade

NÁ 26 jaar het die verdwyning van Tazne van Wyk weer ou wonde vir ’n mammie oopgekrap.

Dié ma soek al 26 jaar na haar meisiekind wat amper op dieselfde manier as die agjarige Tazne verdwyn het.

Katherine Langenhoven (59), wat net om die draai van klein Tazne woon, sê sy onthou nog die dag toe haar vyfjarige meisiekind, Florencia – sy sou vanjaar haar 31ste verjaardag gevier het – ook spoorloos voor hulle huis verdwyn het.

Die ma sê soortgelyke omstandighede, soos hoe Tazne van ’n huiswinkel oorkant haar huis weggeraak het, was ook die geval 26 jaar gelede.

Dit breek haar hart van vooraf.

Sy onthou: “Dit was ’n Sondag, 5 Desember.

“My meisie het ook na ’n winkel saam met bure geloop.

Hoop

“Toe ek haar soek om haar hare te was, het die neighbours gesê sy was nooit saam met hulle nie.”

WAAR'S JY? Carmen van Wyk se hart is in stukkies gebreek, maar sy hou moed. Foto: Jonathan Lestrade

Die mamma sê hulle het omtrént gesoek en alle lei­drade opgevolg. Tot sover as Hawston, maar sonder sukses.

“Nadat ons die Maandag inligting gekry het dat sy laaste saam ’n man gesien is, het ons dit ook opgevolg.

“Die man het ons toe gekry en hy het by die polisiestasie bevestig dat sy lankal ver weg is, maar hy weet nie waar nie.”

Volgens Langenhoven was die man ook al in die tronk en is weer terug tronk toe. Dit was toe hy tien jaar tronkstraf gekry het vir Florencia se verdwyning.

“Ek het nie my dogter teruggekry nie en ons soek nog. Ek wonder steeds en vier jaarliks haar verjaardag.”

Tazne van Wyk

Langenhoven sê dis die eerste keer in jare dat so iets weer in Elsiesrivier gebeur.

“Ek weet presies hoe daai ma voel. Slapelose nagte. Jy hou jou voordeur dop net in case ... Jy raak siek, want dis jou kind.”

Ná 26 jaar het Langen­hoven nog nooit hoop opgegee nie.

“As ’n ma kan jy voel. Jy voel as jou kind nog lewe en nes Carmen voel, voel ek ook.

“My meisie lewe nog. Sy lewe en wanneer sy terugkom, sal ek haar aanvaar net soos sy is.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters