9 maande gelede
‘Ek is gedwing in pleitooreenkoms’
Ontken: Dzingai Mahachazi sing ’n ander deuntjie in die hof.Foto: Shantel Moses  ~ 

’N BUITELANDER wat ’n vrou van Muizenberg na bewering vermoor en toe haar kar in sy naam geregistreer het, het gister in die Kaapse hoog­geregshof verskyn.

Dzingai Mahachazi het glo aangedui dat hy ’n pleit­ooreenkoms met die staat wou aangaan, en dís dat hy sou erken het dat hy Kathy Oates vermoor het.

Mahachazi het egter besluit om nie met die pleit­ooreenkoms voort te gaan nie. Hy het gister gesê hy is gedwing om dit te doen.

Luidens die klagstaat het Mahachazi vir Oates op 24 Janu­arie verlede jaar by haar huis besoek.

Dit is nadat hy haar ontmoet het in die restaurant waar hy gewerk het. Oates het gereeld soontoe gegaan.

Mahachazi het ’n kar by Oates gekoop, maar was agter­stallig met die paaiemente daarvoor.

Gedurende sy besoek aan haar het ’n argument tussen hulle ontstaan. Dis toe dat hy haar na bewering vermoor het.

Mahachazi het toe glo Oates se naakte liggaam in ’n bad geplaas en haar laptop, selfoon en dokumente gesteel.

Vermaan

Sy regsverteenwoordiger, adv. Inge Levendall, het haar aan die saak onttrek. Sy het gesê dis omdat Mahachazi haar teenstrydige instruksies gee.

Die staatsaanklaer, adv. Christopher Burke, het die hof gevra om Mahachazi te vermaan, want “dis die tweede keer dat hy dit doen.

“Adv. Levendall is sy tweede regsverteenwoordiger. Sodra die saak voor die hof is, sê hy hy is gedwing om ’n pleit­ooreenkoms aan te gaan.”

Regter Taswell Papier het aan Mahachazi gesê Legal Aid het nie ’n onbeperkte getal prokureurs wat toustaan vir hom nie.

Daarop het Mahachazi gesê hy het nie die moord gepleeg nie. Die saak is tot 6 April uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters