2 maande gelede
Eise gaar stof op
VERLANG: Maria Witbooi droom van die dag dat hul grondeis afgehandel sal wees.  ~ Mpumi Kiva

OUDTSHOORN. – Plaaslike grondeisers het ’n beroep op die regering gedoen om die vergoeding vir grond te versnel omdat baie al weens Covid-19 geliefdes aan die dood moes afstaan.

Inwoners van Bongolethu en Bridgton sê hulle vra nou reeds die afgelope drie maande die grondeise­kantoor in George­ om na hierdie versoek ondersoek in te stel.

Die inwoners is in die 1960’s onder dwang verskuif van areas wat destyds bekend gestaan het as North End, Klipeiland, Suikerbult en Wesbank.

Hierdie areas is toe in die apartheidsjare ontwikkel as eksklusief wit woonbuurte.

Sommige eisers sê hulle wag al meer as 15 jaar dat hul eis suksesvol afgehandel word.

Volgens hulle sleep die regering voete en hierdie gesloer sit onnodige stres op eisers.

Die 65-jarige Maria Witbooi se fami­lie is ook in die sestigerjare na Bongolethu verskuif.

Witbooi sê haar wens om haar ouerhuis te ontwikkel en op te knap, is stadig besig om te kwyn.

Witbooi voeg by: “Ons eis is al jare gelede geregistreer.

“My ouers het intussen al gesterf.

“Ons word elke jaar beloof dat dinge uitgesorteer gaan word, maar niks gebeur nie.

“Baie van ons is gefrustreerd, want dit lyk nie vir ons of daar enige iets aan ons eise gedoen word nie.”

Witbooi sê wat vir haar nog hartseerder is, is dat baie van die hoopvolle eisers nou weens Covid-19 sterf.

“Ons hoop dat die regering hierdie keer gehoor sal gee aan ons pleidooie,” voeg Witbooi by.

Marie Kieviets, ’n lid van die plaaslike grondeise­komitee, sê die lot van die eisers weeg swaar op haar hart.

Kieviets sê: “My hart bloei wanneer ek sien hoe desperaat mense is om die saak opgelos te kry.

“Ek weet regtig nie hoekom die regering so traag is nie.

Werk

“Mense is van hul grond afgegooi en jare later is dit steeds ’n uitdaging om vergoeding vir hierdie grond van hul ouers te kry.”

Kieviets voeg by baie het hul werk weens Covid-19 verloor en dat die uitbetaling van hul eise goed te pas sal kom.

Volgens die grondeisekantoor in George werk hulle met die provinsiale en nasionale regering saam om die backlog uit te sorteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters