9 maande gelede
‘Eie mense lek sy details uit’
ondersoek: Die polisie fynkam die nuutste skiettoneel vir leidrade. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

DIT kan net een van Donkie se eie mense wees wat sy bewegings dophou en dit aan sy aanvallers bekend maak.

Só sê Jerome “Donkie” Booysen, vermeende Sexy Boys-leier, se prokureur, Bruce Hendricks.

Twee skieters het Booysen Woensdagmiddag by die Spur in Kuilsrivier aangeval, maar hy was gelukkig genoeg om die een dood te skiet toe die aanvaller se vuurwapen jam.

Booysen is in die arm gewond.

Hendricks sê aan Son die skieters het in ál ses voorvalle presies geweet wanneer en waar om Booysen te kry.

Hy sonder die skietvoorval by die Kaapstadse Interna­sionale Lughawe in Oktober laas jaar uit.

Hendricks redeneer: “Hoe het hulle geweet hy moes daardie tyd ’n vlug kry?

“Dit móét net iemand wees wat sy bewegings dophou.”

Hendricks sê Booysen beweeg gereeld met net twee lyfwagte rond, maar sy sekuriteit moet nou opgeskerp word.

Volgens Hendricks het die polisie ook besluit om Booysen nie te vervolg vir die skieter wat hy doodgeskiet het nie.

behandel: Die paramedics probeer om die skieter aan die lewe te hou.
dood: Die skieter het agterna aan sy wonde beswyk. FOTO’S verskaf

Hy verduidelik: “Hulle sien hy het homself verdedig.

“Sy twee lyfwagte was nie by hom toe die skieters hom aangeval het nie.

“Hy het hulle net voor dit na die kar toe gestuur.

“Die polisie sal eers volgende week ’n verklaring van hom afneem, want dis nie nou so ’n goeie tyd nie.”

Hendricks sê verder hulle is baie ontevrede oor hoe die polisie die gewonde Booysen se familie by die hospitaal behandel het.

Volgens Hendricks het die polisie by die hospitaal toegeslaan en al sy familielede se karre deursoek.

Hendricks voer aan: “Die polisie was sommer onnodig.

“Hulle het sy dogter gearresteer wat haar pa se sak by haar gehad het terwyl sy besig was om papierwerk by die ontvangs van die hospitaal uit te sorteer.

“Sy magasyn was daarin en dis hoekom hulle haar vir die besit van ammunisie gearresteer het.

Ontslaan

“Hulle het ook een van die ander familielede se guns gevat, maar ons het alles teruggekry.”

Tydens Son se telefoniese onderhoud met Hendricks het hy ook bevestig dat Booysen uit die hospitaal ontslaan word.

“Hy is nou baie beter en die wond is goed versorg.”

oorleef: Jerome “Donkie” Booysen skop steeds ná die sesde aanslag op sy lewe.
ondersoek: Die polisie fynkam die nuutste skiettoneel vir leidrade. Foto’s: Peter Abrahams

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die omstandig­hede rondom ’n skietvoorval Woensdag omstreeks 15:00 in ’n inkopiesentrum in Kuilsrivier.

Van Wyk sê: “Een persoon is doodgeskiet en nog ’n man is in die voorval gewond.

“Ons speurders is besig om alle leidrade op te volg.

“Ons mag egter geen fynere besonderhede bekend maak nie omdat die saak nog ondersoek word.

“ ’n Saak van moord word ondersoek.”

Bheki Cele, die nasionale minister van polisie, het gister­ op ’n nuuskonferensie genoem dat Booysen ’n prioriteit is en dat hy ondersoek moet word.

Volg Bohemia Hoffmeester op Twitter.

Stuur nuuswenke aaninfo@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters