3 maande gelede
Eid bring vreugde
oud en jonk: Die tradisies en gebruike snoer die gemeenskap en familie saam.  ~ 

’N GRYS heilige dag het gister aangebreek.

Afgeëts teen die reën in die lug het duisende Moslems voor een van die bekendste toeristebakens in die wêreld, die Bo-Kaap, aanbid.

Soos by miljoene ander Moslems oor die wêreld heen is die vreugdevolle Eid gevier.

Die bekende Bo-Kaap in Waalstraat met sy ryke geskiedenis was die bymekaarkomplek vir die vroeë oggend-salah (aanbidding).

Dit was ’n kleurryke oomblik omhul in tradisie, heiligheid en ongeskonde suiwerheid.

Juis oor die gemeensaamheid van die gesin sal elke Moslem getuig dis ’n tyd van familie en vriende.

Faieza Ryland (43) se huis op die hoek van Dorpstraat was vol boetas en tieties wat ná die salah brekfis daar gaan geniet het.

Ryland verduidelik dis ’n familie-tradisie wat hulle oor die jare volgehou het.

Ryland sê al het sy Dinsdagaand eers ná twee daardie oggend bed toe gegaan oor sy die kos moes berei, is dit alles die moeite werd.

“Ons doen dit al 40 jaar. Dit het met my oupa begin.

“Hy het 24 kinders gehad en daai kinders het kinders en so gaan dit aan.

“So, dis altyd ’n volle huis hier op Eid.”

Volgens Ryland is dit ’n dag vir teruggee.

“Almal het ’n taak om te doen. Jy maak die brood, ek maak die fruit salad en jy maak die vleis.

“Ons huis is oop vir enige een. Ek hou van sien hoe mense ons kos geniet en as jy dit nie geniet nie, kry jy ’n taai waai.”

Sedick Abdullah (45) vertel hy sien elke jaar soos ’n kind uit na Eid.

Hy sê die pwasa is dit werd vir die gesellige uiteinde.

Masiet

Dié funny man sê hy praat al heelmaand deur Ramadaan van die lekker kos wat berei word.

“Met ons tradisie gaan ons eerste masiet toe om te bid.

“Dan kom ons saam met ons familie en vier die dag.

“En elke jaar is dit uitstekende kos wat vir ons by die huis wag.”

Hajiera Abdullah (65), die ma van die huis, voeg by die barakat (oorskietpakkie) op Labarang is ook tradisie.

Sy grap: “As jy nie ’n barakat huis toe vat nie, is jou dag nie kla’ nie.”

Die matriarg sê sy sien uit na ál die bakkery op die dag. “Dis so lekker om almal hier te hê.”

Haar man, Cassiem (69), stem saam en sê sy vrou is ’n expert cook. “Dit is dié tipe dinge wat ons familie bymekaar hou.

“Dis hier waar vriende ook familie raak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters