23 dae gelede
EFF, locals takel mekaar
hande vol: Lede van die polisie probeer ten alle koste die mense uitmekaar hou. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

RASSEWOEDE.

Dis wat gisteroggend in Brackenfell oorgekook het toe ’n groep swart EFF-lede en honderde wit locals gebots het.

Die EFF wou buite Hoërskool Brackenfell betoog oor ’n geselligheid wat onlangs gehou is.

Ouers het die betrokke event gereël nadat die skool besluit het hy gaan nie vanjaar ’n matriekafskeidbal hou nie.

Die EFF beweer egter dit was ’n “whites-only matric dance” en dit is gereël met die opset om teen swart leerders te diskrimineer.

Die skool het hom in ’n persverklaring van die EFF se uitlatings gedistansieer en daarop gewys dit was ’n private geselligheid wat nie op die skoolgronde gehou is nie.

Die EFF-lede, wat in vier karre en ’n bakkie opgetrek het, het skaars ’n voet voor Hoërskool Brackenfell gesit toe woedende Brackenfell-inwoners die rooi barette op die hoek van Paradysweg en Frans Conradie­rylaan voorkeer.

konfrontasie: Die humeure vat behoorlik vlam soos daar oor en weer op mekaar geskel word.

Die locals het die groep gewaarsku om die area voor hul skool te verlaat.

Die vuiste het toe begin klap, bakstene en ander klippe is gegooi en sommige van die locals het selfs met base­ball bats ingespring.

Die gewelddadige konfrontasie het begin nadat ’n man die rooi baret van die EFF-lid Luvuyo Ntakana van sy kop gepluk het.

Toe Ntakana dit wou terughê, het iemand geskree: “Moer hom, man!”

Ntakana is verskeie kere met die vuis geslaan en sy linkerarm het seergekry.

Van die inwoners het laat hoor hulle soek nie “terroriste” in hul area nie.

Skote
dinge raak lelik: Dis die EEF-lede teen die locals.

Een EFF-lid is in die hospitaal opgeneem nadat hy met ’n baksteen teen sy kop getref is.

’n Inwoner wat te midde van die chaos vier skote in die lug afgevuur het, is vir poging tot moord gearresteer.

Die polisie se openbare polisiëringeenheid het sy hande vol gehad met die fights wat sporadies van beide kante af uitgebreek het.

Toe dinge begin kalmeer, het die EFF-lede ’n local op heterdaad betrap waar hy probeer het om ’n selfoon van een van hulle te vat.

Die man het die sel oor die heining van ’n eiendom langs Frans Conradie-rylaan gegooi.

Die EFF-lede het die selfoon teruggekry waarna hulle die man aangerand het voordat die polisie hulle gekeer het.

Die EFF-lede het gedreig dat hulle vanoggend met meer lede sal terugkeer om buite die skool te betoog.

Son het met sommige van die inwoners gepraat.

Charlotte Matthius sê: “Die skool het niks te doen gehad met die funksie nie – dit was ’n private funksie.

Broer

“Ons storm nie by die EFF-leier, Julius Malema, se huis in as hy ’n private bymekaarkoms het nie. Nou wat soek hulle hier?”

Fernand Kihani sê hy is ’n oudleerder van Hoërskool Brackenfell en hy het nog nooit enige rassisme daar ervaar nie.

“Ek was ’n leerder hier en my broer het ook hier skool gegaan. My neef is ook nou by die skool en ons het geen rassisme ervaar nie,” sê hy.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, bevestig ’n 39-jarige man is gearresteer.

kom saam: ’n Bekommerde local word gedurende die konfrontasie gearresteer.

Die polisie ondersoek ’n saak van openbare geweld.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, veroordeel die gebeure.

“Ek veroordeel die optrede van die EFF-lede en die bekommerde ouers wat verkies het om geweld te gebruik om hul besorgdheid aan te spreek.

“Ek veroordeel die optrede ten sterkste,” laat Schäfer hoor. “Geweld sal nie die leerders baat nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters