Verlede maand
Eensklaps weg
BAie hartseer: Aubrey Hewitt, Henry Campher se suster, kon haar trane nie keer nie en is nog in skok oor haar skoonsus se skielike afsterwe. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

VOORDAT Henry Cam­pher sy huis in Delft verlaat het, het hy sy vrou ’n piksoentjie gegee en vir haar gesê: “Ek is lief vir jou. Ek gaan nou loop. Sien jou vanaand­.”

Dít was die laaste woorde wat hy aan Crystal (30), sy vrou van sewe jaar, gesê het. Min het hy geweet dit is die laaste keer dat hy haar lewend sou sien.

Crystal is Dinsdagmiddag by die Tygerberg Hospitaal dood verklaar nadat sy getref is deur ’n lorrie wat omgeslaan het.

Campher sê hy het ’n oproep ontvang terwyl hy in Robertson gewerk het.

“Ek weet nie presies wie my gebel het nie, maar die persoon het gesê Crystal was in ’n ongeluk betrokke.

“Al wat ek wou weet, is of sy orrait is, maar niemand het my gesê nie.

“Ek het toe onmiddellik uit Robertson gery. Dit het twee ure gevat.

“Toe ek by die hospitaal kom, toe sê my skoonma vir my sy is oorlede,” vertel Campher.

Hy sê hy kon nie sy emosies control nie; hy wou net sy vrou sien.

“Ek moes my vrou deur ’n glas sien. Ek het haar naam uitgeroep, maar sy het net stil daar gelê.

“Ek kan steeds nie glo sy is nie meer hier met my, met ons, nie.”

Gister is Cam­pher ondersteun deur sy familie, wat almal gesê het Crystal was ’n wonderlike en liefdevolle mens.

“Sy was baie godsdienstig en ons het saam Bybelstudie gedoen.

“Sy het altyd vir my gesê sy wil hemel toe gaan en my altyd gevra wat van my.”

Campher sê hy het nou sy mind opgemaak dat hy tot sy sinne moet kom sodat hy ook eendag hemel toe kan gaan.

“Ek wil my vrou weer sien. Weer met haar wees, sodat ek haar weer vas kan hou.”

Campher sê sy vrou was op pad dokter toe toe die ongeluk gebeur.

Volgens Ross Campbell, ’n ER24-woordvoerder, was dit ’n delivery-trok.

“ ’n Afleweringsvrag­motor wat deur mense in Belhar met klippe bestook is (ons paramedici het dit gesien), het op die Stellenbosch Arterial omgeslaan. ’n Voetganger is kritiek beseer. Die vrou is later in die hospitaal aan haar beserings dood,” sê Campbell.

Campher sê hulle het ook gehoor die ongeluk het gebeur nadat die trok met klippe bestook is.

Bygebring

Volgens Campbell moes die paramedici wag dat die polisie eers op die toneel kom voordat hulle iets kon doen.

“Die pasiënt is op die sypaadjie gevind, sowat 50 m van die trok af. Sy het veelvuldige, kritieke beserings opgedoen en het nie gereageer nie.”

Campbell sê CPR en gevorderde lewensondersteuning-intervensies is toegedien. Die pasiënt is toe wel op die toneel bygebring.

Sy is daarna vervoer na die Tygerberg Hospitaal, maar het in ongevalle aan haar beserings beswyk.

Campbell sê die vrag­motorbestuurder het ligte beserings opgedoen. Hy is ook vir verdere sorg na die hospitaal geneem.

“Die vragmotor het leë palette vervoer. Die Kaapstadse brandweer was ook op die toneel.”

Intussen ondersoek die polisie ’n saak van strafbare manslag.

Sers. Noloyiso Rwe­xana, ’n provinsiale polsiewoordvoerder, sê: “Die omstandighede rondom hierdie voorval word nog ondersoek. Niemand is in hierdie stadium al gearresteer nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters