Verlede maand
Een in hul pyn
houtbaai hawe
gemeenskap staan saam: Een van die vier bote waarin die familie en vriende van drie van die vermiste vissermanne gevaar het om op see te gaan blomme strooi.  ~ Jonathan Lestrade

HULLE het soos mis voor die son verdwyn.

Maar hulle familie en vriende bly hoop.

Terwyl die soektog na ses vissers voortgaan, het drie van die vermistes se familie gister in gebed byeengekom.

Maurice Adams, Moegamat Ganief Rasdien en Brenteano Brink van Houtbaai is onder die 13 vissermanne wie se boot laas week in die see omgeslaan het.

Luidens berigte het een uitgeswem en alarm gemaak. Ná hom het nog drie manne uit die water gekom. Twee ander is gered en een het verdrink.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, het Maandag aan Son gesê die soektog na die ander ses vissermanne duur voort.

Die familie van die drie vissermanne van Houtbaai het gister op die hawe saamgekom om te bid en mekaar te ondersteun.

Vir Kamila Rasdien, Moegamat se vrou, is dit baie moeilik om te beskryf hoe sy oor die gebeure voel.

“Ons is 21 jaar saam. Hy is my man, ’n pa en ’n goeie vriend vir baie.

“Ek wil hom net weer sien,” sê sy.

Rasdien sê sy het geweet hy gaan uit, maar sy het verwag hy sou terugkom.

“Ons het nog 00:50 laas gepraat. Daar was geen teken dat enige iets fout is nie. So, ek het verwag hy sal terugkom, maar dis tevergeefs. Ek wag nou nog.”

VERMIS: Moegamat Ganief Rasdien (47).
VERMIS: Maurice Adams (39)
VERMIS: Brenteano Brink (17).

Intussen hoop Rasdien vir die beste én die slegste.

“Hulle sê mos ’n mens moet prepare, maar vir wat presies?

“Dié is nie maklik nie. Ons het hoop, maar ons moet ook realisties wees.

“As hy nie meer met ons is nie, wil ek ten minste my man se liggaam hê,” sê sy.

Vir Adams se lewensmaat, Nirissa Abrahams (40), is dit ook ’n baie hartseer situasie.

Sy weet nie hoe om vir hulle twee kinders te verduidelik waar hulle pa is nie.

“Hy is ’n goeie pa vir ons kinders en ’n goeie man vir my.

“Dis die ergste gevoel om nie te weet waar hy is nie.

“Ek wil niks hoor dat hy dood is nie,” sê sy. 

Gesorg

Abrahams vertel dit was die eerste keer in twee jaar dat Adams op see uitgegaan het.

“Hy is daarna toe gelei om te gaan.

“Hy het nie ’n keuse gehad nie omdat hy vir ons moet sorg.

“Hy het gewag en gewag vir die small-scale geld om uitbetaal te word, maar niks het gekom nie.

“Hy het altyd vir ons gesorg, en dít is wat hy laas week gaan doen het.

“En wat nou? Wat sê ek vir ons kinders – waar is hulle pa?”

Brenteano Brink (17) se familie was ook gisteroggend op die hawe. Hulle het saam gebid en gesing.

Die groepe het later op vier verskillende bote uitgegaan om blomme te strooi naby die plek waar die vissermanne verdwyn het.

Lambinon het gister bevestig dat daar nog geen verwikkelinge is in die soektog na die ses vissermanne nie.

STAAN SAAM: Een van die vier bote waarin die familie en vriende van drie van die vermiste vissermanne gevaar het om op see te gaan blomme strooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters