8 dae gelede
Dwelms in tent: Vrou in hegtenis
DWELMS ONTDEK: ’n Hawelose vrou is in hegtenis geneem nadat dié dwelms in haar tent gevind is.  ~ Foto Verskaf

’N HAWELOSE vrou wat in Wynberg plak, is in hegtenis geneem nadat 209 pakkies tik en 60 Mandrax-tablette in haar tent gevind is.

Die vrou se arrestasie volg nadat wetstoepassers van die Stad Kaapstad inligting ontvang het dat die hawelose wat in ’n tent in Ebor-weg woon, met dwelms handel dryf.

Die metropolisie se woordvoerder, Wayne Dyason, sê die beamptes is na die tent en ná ’n onderhoud met die verdagte het hulle die dwelms gevind.

Dyason sê sy is in hegtenis geneem en na die Wynberg-polisiestasie geneem, waar sy formeel aangekla is. “Dié gebied is ’n brandpunt en baie klagtes word ontvang van inwoners oor dwelmverwante misdrywe,” sê Dyason.

  • Intussen het wetstoepassers van die diefstaleenheid inligting ontvang oor ’n voorval van koperdiefstal 09:00 op 6 Junie in Bishop Lavis.

Houtgerus

Dyason sê die informant het inligting gedeel dat die verdagte die gesteelde koperkabels onder die grond begrawe het, maar dat hy ook kabels in sy wendyhuis weggesteek het.

Hy sê toe die beamptes by die verdagte se blyplek aankom, is hy gevind waar hy houtgerus sit en Mandrax rook.

Die beamptes het ’n inspeksie van die eiendom gedoen en koperkabels van Eskom op die perseel ontdek.

Dyason sê verdere ondervraging van die verdagte het aan die lig gebring dat die Belhar-polisie hom op verskeie klagte soek. Die verdagte en ’n vrou­like medepligtige is in hegtenis geneem weens die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, die besit van gesteelde eiendom, aanranding van ’n peace officer en verset teen inhegtenisneming. Dyason sê die straatwaarde van die kabels is ongeveer R5 000.

Die twee word tot hul verskyning in die Bishop Lavis-polisiestasie aangehou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters