Verlede maand
Dwaalkoeël eis ou in huis
Quinton Adams (52)  ~ 

’N BESOEK by familie in Hanover Park het noodlottig skeefgeloop vir ’n man van Belhar toe hy in bendes se kruisvuur beland het.

Quinton Adams (52) is Sondagmiddag in die gesig geskiet en is op die toneel dood verklaar.

Adams het sedert Saterdag by sy familie en vriende in Hanover Park gekuier.

Volgens ’n familielid was hy op pad na die badkamer toe ’n dwaalkoeël hom deur die venster in die kop getref het.

Die voorval het in Phillans Walk gebeur.

Die familielid, wat verkies om anoniem te bly, sê: “Hy was ’n lieflike mens en die familie is platgeslaan.

“Ons probeer nog verwerk wat gebeur het.”

Mansoer Arendse van die organisasie Hanover Park Concerned Citizens sê: “Die skietery gaan voort ten spyte van die army se teenwoordigheid.

“Hulle het net gesig kom wys in Hanover Park en maak geen verskil nie.

“Daar is gisteroggend ook ’n vermeende American in die kop geskiet.

Huil

“Die weermag maak geen verskil nie. Die bendes skiet nog dat die honde huil.”

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, ondersoek die cops die omstandighede rondom die skietvoorval.

’n Moorddossier is aangelê, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

  • In nog ’n skietery Sondagaand is ’n 23-jarige man in Elsiesrivier dood.

Die voorval het om en by 20:10 in Tiara Way, Leonsdale, op ’n oop stuk veld gebeur. Die man is op die toneel dood.

  • In Mitchells Plain is drie mans dié naweek in afsonderlike voorvalle vermoor.
  • Volgens Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, was daar wel dié naweek minder moorde nadat die weermag verlede week in hot spots op die Kaapse Vlakte ontplooi is.

Winde sê: “Dié naweek is 25 moorde by die forensiese dienste van die Soutrivier-lykhuis aangemeld.

“Die vorige naweek was daar 43 moorde en die naweek voor dit was daar 55 moorde.

“Ons is bly dat die teenwoordigheid van die weermag lei tot ’n afname in die getal moorde.”

  • Inwoners van Factre­ton het dié naweek gemarch teen bendegeweld in hulle gebied.

Ontstoke inwoners het na die hot spots in die buurt gegaan en gebede daar gedoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters