2 maande gelede
Dwaalkoeël eis gestremde
Gershwin Arendse (19)  ~ Foto Verskaf

’N VERSTANDELIK gestremde jong man is gisteroggend in sy slaap dood nadat ’n dwaalkoeël deur hul Wendy-huis se venster hom getref het.

Gershwin Arendse (19) van Manenberg het in sy bed gelê en slaap toe die dwaalkoeël hom noodlottig in die bors tref.

Die voorval het gister omstreeks 02:00 gebeur.

Die dwaalkoeël het deur die venster van die Wendy-huis gegaan en Gershwin getref wat op die boonste stapelbed gelê en slaap het. Hy is op die toneel dood.

Oukei

Die res van sy familie het ook geslaap en is wakker gemaak deur die skote wat buite afgaan het.

Toe die skote stil word, het hulle gaan kyk of almal in die huis oukei is.

Volgens inwoners is dit die Hard Living-bende en die Americans wat oor en weer op mekaar geskiet het.

Die skietery het na verneem word gister weer voortgegaan.

Dit gaan na bewering oor dwelm-turf waaroor die twee rival gangs baklei.

Gershwin se hartseer pa, Brian Minnaar (44), sê: “Dit het behoorlik bullets ge­reën. Dit kon enige een van ons gewees het. Ons is nog in skok en dit is ’n groot verlies vir ons.

“Gershwin het op die boonste dubbelbank gelê en een van die koeëls wat deur die venster gekom het, het hom geraak.

“Nadat dit stil geraak het, het ek gekyk of hy oukei is. Dit was donker en ek het gedink hy het weer ’n aanval gekry.

“Hy het geroggel en toe ek hom van die bed af lig om op die grond neer te lê, het hy sy laaste asem uitgeblaas.

“Daar was niks wat enige een van ons kon doen nie.”

Volgens ’n familielid het Gershwin die verstand van ’n 11-jarige seuntjie gehad.

Die familielid sê: “Hy het altyd net gelag as jy hom uitskel oor iets wat hy verkeerd gedoen het.

“Hy sou niks praat nie en net wegloop.”

Volgens kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, is hulle nog besig om die omstandighede rondom die skietery te ondersoek en niemand is al gearresteer nie.

  • Intussen is die cops in Hanover Park op soek na ’n verdagte wat Saud “Boot” Rademeyer (29), ’n getuie in ’n moordsaak, koelbloedig doodgeskiet het.

Volgens sy pa, Nasief Brink (54), het hy staats­getuie gedraai teen lede van die Ghetto’s wat van moord aangekla is.

Hy is verlede Maandagaand doodgeskiet voordat hy sou getuig.

Brink sê: “Ek het die aand by die huis gekom toe twee mans my seun soek.

“Hy was in die huis saam met sy girlfriend. Hulle het TV gekyk.

“Ek het hom geroep en hy’t uitgekom na die mans toe. Hulle het vir hom gesê dat iemand hom soek en die persoon staan by Oribi Court. Hy het saam met hulle tot daar geloop.

“Skaars vyf minute later het ons skote gehoor. Sy girlfriend het gaan kyk en minute later skreeuend aangehardloop gekom. Sy het gesê my seun is geskiet.

Gedwing

“Ek het gaan kyk en hy was reeds dood. Hy is drie keer in die kop geskiet.”

Volgens Brink het hy saam met die Ghetto’s uitgehang, maar hy was nie een van hulle nie.

Hy beweer sy seun is gedwing om ’n getaway driver vir hulle te wees as hulle ’n drive-by shooting gaan doen. Hy wou dit nie meer doen nie en daarom is hy van die huis weggelok en doodgeskiet.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters