9 dae gelede
Dwaalkoeël eis dogter
VAN ALLES BEROOF: Susanna Adams en haar boyfriend, Henry Konolo (52), treur oor hul dogtertjie wat deur gangster bullets gevat is.  ~ Melinda Stuurman

TROOSTELOOS.

Ouerharte wat nooit weer sal genees nie.

Só het Son gister die ma en pa van klein Marilyn Josephine Adams (3) aangetref.

Hul harte is aan stukke nadat hul lieflingkind in die gangsters se kruisvuur beland het.

’n Dwaalkoeël het klein Marilyn Dinsdagaand in die kop getref.

Sy was in mamma Susanna Adams (42) se arms toe die dwaalkoeël haar tref.

Susanna en haar boyfriend, Henry Konolo (52), het omstreeks 20:30 buite hul huis in Normandiesingel in Heather Park gesit toe die skietery uitbreek.

’n Hartseer Konolo vertel huilend: “Ons het buite om die vuur gesit. ’n Wit kar het in die straat voor die huis gestop.

“Daar was vier mans in die kar en een het met ’n gun uitgeklim.

“Hy het net begin skiet. Toe die eerste skoot afgaan, het ek my vrou in die huis in gedruk. Sy het nog ons baba op haar arm gehad.”

’n Gebroke Susanna sê: “Toe ek in die huis kom, het ek gevoel my arm is nat.

“Toe sien ek dis bloed en toe ek afkyk, sal ek ontdek my kind is deur die kop geskiet.

“Sy het nog geleef en niks gehuil of geskree dat sy seer het nie.

“My broer het met ons in sy kar na die Eersterivier-hospitaal gejaag.

“Ek het nog heeltyd my kind in my arms gehad. By die hospitaal het ek my kind op die bedjie neergelê.

“Die dokter het gesê daar is niks wat hy kan doen nie, want my kind is reeds oorlede.”

DIEPE HARTSEER: Henry Konolo kan nie ophou huil oor sy klein sonstraaldogtertjie nie. Foto: Melinda Stuurman

Die mamma breek toe sy sag sê: “My hart is stukkend. My kind het nog niks van haar lewe gehad nie.”

Konolo is ’n pa wat dit nie meer kan verduur nie.

Dis nou al hul tweede kind wat hulle aan die dood moes afstaan.

Konolo voel dat die jongens nie met opset op hulle geskiet het nie.

Hy meen hulle almal sou dood gewees het as die jongens wel direk op hulle geskiet het.

Beskerm

Past. Adam Alexander, ’n familielid en gemeenskapsleier van Uitsig, sê: “Ek het nooit gedink dat so iets met my familie sal gebeur nie.

“Ek werk amper elke dag met families wat kinders verloor in bendegeweld. Dis vreeslik.

“Dit het tyd geword dat die regering iets drasties doen om die lewe van onskuldige kinders te beskerm.

“Die guns word afgeneem, maar dan beland dit weer in die gangsters se hande.

“Die kind se ouers is werkloos. Hoe gaan hulle die kind begrawe?”

HIERSO: Die gesinnetjie het by die huis gesit toe die skietery begin. Foto: Melinda Stuurman

Uit die min wat die ouerpaar het, is nou nóg ’n stuk uitgeskeur.

Volgens brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, het die eenheid teen bendes ná die skietery inligting opgevolg wat gelei het tot die arrestasie van vyf mans.

Potelwa sê: “Die anti-gang unit het ’n huis in die straat deursoek en vyf vuurwapens, waaronder ’n shotgun, gekry.

“Vyf mans, waaronder twee minderjarige seuns, is gearresteer.”

Die verdagtes is aangekla vir die besit van onwettige vuurwapens.

Niemand is nog van die moord aangekla nie.

Enige iemand wat die familie finansieel wil bystaan, kan pastoor­ Alexander by 067 169 5995 skakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters