18 dae gelede
Droom nou waar
onthou: Veronica April met die prentjie wat sy geteken het van hoe hul huise langs mekaar gestaan het en al die plante wat daarrondom gegroei het.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

SY WAS net 14 jaar oud toe sy en haar familie as gevolg van die Groepsgebiedewet sak en pak moes trek van hul huis in Constantia.

Só vertel Veronica April, wat nou 68 jaar oud is.

“Ek kan nog mooi onthou hoe die man gesê het hy gaan ons Parkwood toe stuur. Ons was so vier families uit al die ander wat saam daarnatoe getrek het terwyl die meeste families Manenberg toe is.”

April onthou hulle het swaar grootgeword in Constantia, maar het eers jare later besef watter vreugde dit eintlik was.

“Ons het mos nie krane of elektrisiteit gehad nie en moes uit ’n fontein water aandra. Waar ons die water gaan haal het, was afdraand en dan moet jy nog daai water opdra huis toe.

“Dit was eintlik ’n swaar lewe. Toe my ma sê ons gaan na ’n huis met water en elektrisiteit, was ons bly, maar ons het nooit besef waarvoor ons ons inlaat nie.”

April sê toe hulle trek, het almal op ’n hoop gebly. Haar broers en pa het in alkohol verval en haar ma moes die huis bymekaarhou.

“Ek het altyd aan ons ou huis gedink. Hoe ons gelewe het, was altyd in my agterkop. Dit was spontaan sonder kommer op ’n plek waar jy verkleurmannetjies en slange kon vang.

“Ek het altyd gefantasize dat ons eendag vergoed sou word of dat ons miskien weer sou teruggaan.”

April sê sowat 25 jaar gelede het sy haar claim ingesit vir die grond. Ander families wat ook voorheen op die grond gewoon het, het dieselfde gedoen. Laas jaar het hulle die eis gewen.

“Dit is dalk nou nie dieselfde grond waar ek grootgeword het nie, maar dis in Constantia.

“Daar waar ek voorheen gewoon het, is nou paleise gebou,” lag sy.

April voeg by sy wou dit doen vir haar pa, Johannes Williams, wat daar grootgeword het.

Aanmoedig

“My pa was die pompomkoning. Wanneer ek daardie plante sien, word ek hartseer en dink aan hom. Ek wou ook so ’n stukkie van my kinderjare terugkry.”

April sê dit klink amper onmoontlik, maar sy wil mense aanmoedig om nie moed op te gee nie.

“Hou maar net aan. Moenie moed verloor nie,” is haar raad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters