2 maande gelede
Drive-by lei tot nóg 2 sterftes
RAAK ERG: Forensiese ondersoekers is op die moordtoneel in Leonsdale.  ~ Foto Verskaf

DIE bendegeweld in Elsiesrivier het die lewe van nóg twee mans geëis.

Die twee, onderskeidelik 17 en 23 jaar oud, is koelbloedig doodgeskiet.

’n Tiener (17) is ernstig gewond.

Die drive-by shooting het omstreeks 14:20 in Leonsdale gebeur. Mans in ’n silwerkleurige Toyota Etios het op die drie losgebrand.

Imraahn Mukaddam, ’n gemeenskapsleier in Elsiesrivier, het sy misnoeë oor die skietvoorval uitgespreek.

Mukaddam het gesê: “Die bendeskietery in die gemeenskap het die norm geword.

“Die inwoners aanvaar dit as normaal.

“Hier by ons, wanneer die bendes skiet, hardloop die kinders om te gaan kyk, in plaas daarvan om skuiling te soek of weg te hardloop.

“Dit is asof ons in ’n ander wêreld woon, waar misdaad soos ’n realiteitsprogram is.

“Die bendeskietery en misdaad is besig om erg handuit te ruk.”

Volgens kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog gearresteer nie. Twee sake van moord en een van poging tot moord is geopen.

  • Intussen is twee mans in ’n skietery in Manenberg gewond. Die skietery is deel van die voortslepende bendegeweld.

Die voorval het Woensdagaand op die hoek van Swakop Road en Manenberg Avenue gebeur.

Twee mans van onderskeidelik 34 en 35 jaar oud is gewond en is tans in die hospitaal.

Die skietery van die afgelope twee weke tussen die Americans en Hard Living-bende het al die lewe van verskeie onskuldige mense geëis.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, volg die speurders nog leidrade op. Niemand is al gearresteer nie.

Twee sake van poging tot moord word ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters