Verlede maand
Drieling is seëning
KLEINGOED: Links sit ouma Naomi du Toit met Caleb. Mammie Ashantay du Toit sit met Calo en Calum.  ~ Jonathan Lestrade

ENIGE ouer wat weet hoeveel dit verg om ’n kind groot te maak, sal simpatiseer met ’n bloedjong mammie wat ’n vyf maande oue drieling moet grootmaak.

Ashantay du Toit (18) van Clarkes Estate in Kaapstad vertel hoewel daar na hul basiese behoeftes omgesien word, kom sy altyd kort met babagoedjies.

Maar die jong mammie hou vol dis haar geskenk van Bo en al het sy min, is sy ryklik geseënd.

“Ek kyk bedags alleen na hulle en my ma gee ’n hand as sy nie by die werk is nie.

“My hande is soms oorvol, maar ek geniet dit met die drietjies. Ek het ná my broer se dood na sy baba gekyk, so ek het darem die ins en outs van babas geken,” vertel Ashantay.

“Basies het ons alles wat ons need, maar dinge soos formula en nappies kan ons nie altyd bekostig nie.

“Die drietjies se pa wil niks weet nie en volgens hom is dit nie sy kinders nie.”

Ashantay vertel daar gaan binnekort ’n DNS-toets gedoen word, maar sy is doodseker wie haar kids se pa is.

Die drieling – Caleb, Calo en Calum – is gelukkige babas en Ashantay sê as mammie gaan sy hulle teen die euwels in ons gemeenskappe beskerm.

Calo, wat laaste gebore is, moes ’n maand in die hospitaal bly ná geboorte.

“Calo moet elke tweede week fisioterapie bywoon en dis ook soms ’n gesukkel, want ek moet mense vra om saam met my te gaan.”

Naomi du Toit (44), die drieling se ouma, sê ten spyte van al die odds doen Ashantay ’n goeie job.

Trots

“Sy weet hoe om die drie alleen te handle. Sy is lief vir haar kinders en kyk baie mooi na hulle met die min wat ons het.

“Ek is baie trots op haar.”

Sy sê hoewel daar tweelinge aan beide kante van Ashantay se familie is, is dit die eerste drieling.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters