4 maande gelede
Drie wetstoepassers vas vir huisroof
Drie wetstoepassers is op 'n klag van huisroof gearresteer.  ~ Foto ter illustrasie

DRIE Kaapse wetstoepassers is gearresteer ná hulle na bewering 'n huis in Kalkbaai beroof het.

Volgens die polisie het die drie beamptes Donderdagaand om 23:00 na 'n huis in Dalebrookweg gegaan met die voorwendsel dat hulle die eienaar wil ondervra.

Sers. Noloyiso Rwexana, 'n polisiewoordvoerder, sê hulle het die slagoffer se huis deursoek en ’n onbekende bedrag geld gevat.

“Die verdagtes het die slagoffer na Nyanga gevat, waar hy gedwing is om ’n verdere bedrag kontant te trek. Hulle het toe sy karsleutels teruggegee en hom vrygelaat om terug huis toe te gaan."

Rwexana sê ’n klag van huisroof is by die Muizenberg-polisiekantoor gelê.

Die polisie se ondersoek het hulle na die wetstoepassers in Beacon Valley gelei. Drie beamptes van tussen 33 en 36 jaar oud is toe gearresteer.

“Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat na bewering in die huisroof gebruik is.”

Wayne le Roux, Stad Kaapstad se waarnemende uitvoerende direkteur vir sekuriteit en veiligheid, het aan News24 gesê die drie beamptes is voorlopig geskors nadat bewerings van hul betrokkenheid by die huisroof aan die lig gekom het.

Die beamptes sal na verwagting Maandag hul eerste verskyning in die hof maak. - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters