5 maande gelede
Drie sterf toe huis afbrand
VUUR: Die tragiese voorval het die lewe van drie mense geëis.  ~ Foto Verskaf

VERWRONGE metaal en as.

Dis al wat van ’n dubbelverdiepinghuis oorgebly het toe dit Sondagaand in ligte laaie gestaan het nadat dit na bewering aan die brand gesteek is.

Dié tragiese voorval het ook die dood van drie mense veroorsaak wat in die huis in Boomstraat, Schaapkraal, was toe die brand begin het.

Kind

’n Persoon wat op die toneel was, vertel aan Son dat die forensiese span drie lyke uit die puin verwyder het.

“Daar was twee klein body ­bags en ’n groter een.

“Hulle het ook nog ’n klein kind met die ambulans van die toneel af weggevat. Almal het gedog die kind is dood, maar sy het oorleef.

“Alles het uitgebrand. Daar was absoluut niks oor nie. Die huis is plat tot teen die grond toe afgebrand.

“So, vir daai kind wat dit oorleef het, is dit ’n ware miracle.”

Die informant sê die brand het net ná elfuur die aand uitgebreek.

“Die brand was so groot dat dit byna ag uur gevat het voordat dit heeltemal geblus is.”

Oorblyfsels van die huis waarin buitelanders gewoon het, is teen gistermiddag nog opgetel en die grond skoongemaak.

Volgens sommige mense wat in die huis gewoon het, het ’n fight tussen die board­ers uitgebreek.

Daar word ook beweer dat die ou wat in die brand oorlede is, die huis aan die brand gesteek het.

Intussen het van die mense wat in die huis gewoon het, gister op straat gesit sonder ander opsies vir verblyf.

Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Die oorsaak van die brand moet nog bepaal word. “Omstandig­hede rondom die voorval word nog ondersoek.”

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, sê toe die brandweerdienste by die toneel opgedaag het, het die dak en eerste vloer al ingegee.

Carelse het bevestig twee van die slagoffers is onherkenbaar verbrand. “Die toneel is net voor sewe-uur die oggend aan die polisie en forensiese span oorhandig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters