Verlede maand
Drie pit bulls kry vrou beet
VERSKEUR: Só lyk Lucrecia Abrahams (31) se arm ná die grusame aanval.  ~ Foto Verskaf

MET elke byt wat sy gekry het, het sy die Here gedank dat haar baba nie saam met haar is nie.

Lucrecia Abrahams (31) van Eersterivier in die Kaap kan steeds nie verstaan hoe sy dit reggekry het om gister drie pit bull-honde van haar af te baklei nie.

Abrahams het gisteroggend met die dood hande geskud toe die drie pit bulls haar aangeval het. Sy was nog so geskok dat sy nie eens presies kan onthou hoe laat die voorval gebeur het nie.

Die vel is van Abrahams se arm afgeskeur en diep wonde aan haar been gaan haar nog vir lank pyn gee.

Sy is diep geskok, maar ook dankbaar dat sy leef om die storie te kan vertel.

Abrahams het gister half verbouereerd gesê: “Ek glo nie meer aan daai spreekwoord dat ’n hond ’n mens se beste vriend is nie.”

Abrahams, van Malibu Village, was op pad om pille by haar ma te gaan haal toe die honde haar aanval.

Sy vertel: “Soos ek in die pad geloop het, het ek die een hond gesien wat na my aangehardloop het.

“Ek het weggekom en probeer om oor die bure se muur te spring toe die ander twee honde my teruggeruk en begin byt het.”

Abrahams vertel sy het omtrent vir vyf minute om hulp gegil, maar niemand het uitgekom nie.

“Ek was bang en het gedog ek gaan my lewe verloor. In daai oomblikke het ek net gedink ek is so bly ek het my baba by die huis gelos.

“Ek het die honde afbaklei met krag wat ek nie weet waarvandaan kom nie. Maar ek hét.

“Ná ’n tydjie het die bure uitgekom en probeer om die honde weg te slaan.”

Abrahams sê sy is net dankbaar dat sy nie in haar gesig gebyt is nie. Sy vertel verder: “My linkerarm is verskeur en ek is in my sy gebyt en ook op my been en boud.”

By die hospitaal het sy gehoor sy moet dalk ’n veloorplanting kry oor die wonde baie diep is en die vel van haar arm af hang.

Naomi Abrahams (63), Abrahams se stiefma, sê hulle het net die vorige aand nog oor die lockdown-regulasies gesels.

“Die besluit was dat net een van ons sal uitgaan as daar ’n noodgeval is.

“Gisteroggend het Lucrecia nie so lekker gevoel nie en het pille by haar ma gaan haal. Ons het nog na haar babatjie gekyk toe ons die oproep van die hospitaal ontvang dat sy daar is.”

Naomi sê al weet sy nie presies wat gebeur het nie, is sy teleurgesteld dat die honde se eienaar nog nie met hulle kontak gemaak het nie.

Abrahams sê wel dat die honde se eienaar haar gebel het om te sê die Dierebeskermingsvereniging het een van sy honde kom haal.

Sy vra: “Net die een? Hoekom nie al drie nie?”

Letsels

Abrahams se mammie, Desiree Abrahams, sê die gesin gaan nie die saak so los nie.

Son het probeer om met die eienaar van die honde te praat, maar hy wou niks sê nie.

Intussen sê Abrahams al wil sy van die dag en die pyn vergeet, besef sy ook dat die letsels – en die vrees – nog baie jare saam met haar gaan wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters