10 dae gelede
Drie mans dood, vrou gewond in skietvoorvalle

DRIE mense is dood in twee skietvoorvalle wat enkele ure uitmekaar in Elsiesrivier plaasgevind het. 

In die mees onlangse skietery, wat Saterdag omstreeks 12:30 op die hoek van 28de Laan en Haltweg gebeur het, is twee mense dood. 

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie was lank besig op die toneel waar twee mans in hul 30’s noodlottig gewond is. “ ’n Vrou wat in die voorval gewond is, is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.”

Volgens Rwexana het die mans en die vrou in ’n wit VW Golf gesit toe onbekende persone op hulle afstorm en op hulle skiet. “Die motief vir die skietvoorval is nog onbekend.”

’n Dubbele moord en ’n saak van poging tot moord word ondersoek.

In die ander voorval is ’n 23-jarige man doodgeskiet. 

Die voorval het Vrydagaand omstreeks 18:35 in 35ste straat in Clarkes Estate plaasgevind, sê Rwexana. “Die polisie het met hul aankoms op die toneel op ’n man se lyk afgekom. Hy het veelvuldige skietwonde gehad.”

Rwexana sê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Niemand is nog aangekeer vir die moorde nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters