5 maande gelede
Drie dood op Kaapse paaie
gevaarlik: Die ongelukstoneel op die N2-snelweg naby die R300 waar een persoon gister vroegoggend dood is.Foto: twitter  ~ 

DRIE mense is die naweek op Wes-Kaapse paaie dood.

Dié ongelukke het in die Kaapse metropool plaasgevind.

Volgens die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, het een van die ongelukke gisteroggend op die N2-snelweg voor die kruising met die R300-snelweg gebeur.

Africa het bevestig dat een persoon in dié ongeluk dood is en nog een ligte beserings opgedoen het.

Twee ander dodelike ongelukke het Saterdag gebeur en die slagoffers in albei voorvalle was voetgangers.

Africa het gesê: “Een voetganger is op die N2-snelweg naby Jan Smuts-rylaan se afrit dood.

“Nog ’n voetganger is Saterdag in die Gordonsbaai-omgewing dood.”

Africa het verder gesê die provinsiale verkeersdepartement het verskeie padblokkades gehou, waar al­tesaam 2 093 voertuie Vrydag en Saterdag voorgekeer is.

Volgens Africa is 1 784 bestuurders vir alkohol getoets en uit dié getal is 28 bestuurders op aanklag van dronkbestuur aangekeer.

Die hoogste lesing vir alkohol by ’n driver was 1,25 mg/1 000 ml.

Dit is vyf keer oor die wettige alkohol-limiet en dié arrestasie is in Caledon gedoen.

“Ons het ook een persoon gearresteer wat op straat dronk was – ’n voetganger, in Vredendal,” het Africa bygevoeg.

“Nog ’n persoon is in Caledon gearresteer omdat hy kreef onwettig in sy besit gehad het.

“En dan is een passasier ook in Mosselbaai aangekla omdat hy ’n verkeersbeampte in die uitvoer van sy pligte verhinder het.”

Africa het verduidelik altesaam 278 boetes van R378 950 is ook opgelê.

Die totale getal drivers wat vir spoedoortredings vervolg is, is 312.

Die hoogste spoed wat aangeteken is, is 188 km/h in ’n 120 km-sone in Beaufort-Wes, het Africa bygevoeg.

Volgens hom is agt mense vir verskeie strafregtelike oortredings aangekeer.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters