28 dae gelede
Twee dood in gru-botsing
Stukkend: Die liggame van die slagoffers word van die toneel verwyder. Agter steek ’n wrakstuk uit. Foto: Leon Knipe  ~ 

’N TIENER van Bonteheuwel en ’n vrou van Grabouw is Saterdag­oggend in ’n grusame motorongeluk dood.

Die wit Toyota waarin hulle gery het, het reg van voor met ’n wit Caddy gebots, sê die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa.

Die Toyota het weens die impak in twee stukke gesplit.

Africa sê die ongeluk het omstreeks 07:00 op die Klipheuwelpad naby die N1-afrit plaasgevind.

“Twee insittendes van die Toyota is op die toneel dood. Die bestuurder van die Caddy is beseer.”

Die 14-jarige Shaniqa van Wyk was ’n gr. 6-leerder aan die Laerskool Boundary in Bonteheuwel. Haar ma, Sharon van Wyk, sê sy het Vrydag laas met haar baby-kind gepraat.

“Sy was die jongste van my drie kinders.

“Sy was ’n lieflike kind wat lief was vir smile. Ek gaan alles van my kind mis.

“Haar leemte in die huis sal beslis gevoel word.”

Oor die bestuurder van die kar waarin haar kind dood is, wou sy nie kommentaar lewer nie.

Sy het hierdie navrae na haar man verwys. Hy wou egter nie met Son praat nie.

’n Ander familielid sê die 29-­jarige vrou, wat net as Stephanie bekend is, is nie ’n familievriendin nie. Dis ’n vriendin van Shaniqa se pa. “Hy vat dit baie swaar en blameer homself.”

Stephanie is oorspronklik van Grabouw. Dit is onseker waarvandaan hulle gekom het, maar hulle was op pad terug na Delft, waar Stephanie gewoon het, sê die familielid. Stephanie het twee jong kinders.

In die sosiale media het mense hulle skok uitgespreek oor die wrak van die kar wat in twee geskeur is.

Van hulle meen die kar is dalk voorheen gelas en dat die las weens die impak van die ongeluk gebreek het.

Altesaam 11 mense is die naweek op die Wes-Kaapse paaie dood.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters