2 maande gelede
Dreine verstop oor ‘misbruik’
OU STORIE: Dié gesin van Hanover Park is een van talle wat gedurig las van verstopte dreine het.  ~ Foto Verskaf

TYRES, ou klere, skoene, ou boumateriaal, koerante, nappies, kondome en diere-oorskot.

Dís van die items wat tot die verstopte dreine in die Wes-Kaap lei.

Xanthea Limberg, mayco-lid vir afvaldienste en water, sê dis dié dat tot 300 dreine in Kaapstad daagliks oorloop.

Limberg sê die Stad Kaapstad se departement van water en sanitasie het in 2020 ongeveer 122 000 geblokte dreine regoor Kaapstad skoongemaak.

Volgens Nicole Breden­kamp, ’n inwoner van Hanover­ Park, sukkel hulle al jare met ’n verstopte drein buite hul huis.

Siek

’n Ontstelde Bredenkamp sê: “Die probleem met die drein wat gedurig oorloop, raak net erger.

“Die Stad Kaapstad kom uit en maak dit reg. Skaars ’n paar dae daarna loop die drein weer oor.

“Die kinders raak siek van die stink reuk en dit is reg oorkant ’n laerskool. Ons is belastingbetalers en is geregtig op goeie dienslewering.”

Brian Japhta, wat in Downberg Road, ook in Hanover Park, bly, sê: “Die hele straat word geaffekteer deur die verstopte drein wat oorloop.

“Daar is drie dreine in die straat, waarvan die hoofdrein voor my hek is.

“Al die rioolpype van die straat, skool en inkopiesentrum konnekteer met die hoofdrein, wat veroorsaak dat dit oorloop.

“Die mense gooi alles in hul toilette af, wat die probleem vererger.

“Dit gee ’n lelike stank af tot regdeur my huis. Jy voel nie eens lus om in jou huis te eet nie.

“Dit is ’n gesondheidsrisiko en ons sukkel al jare.

“Hulle het net Dinsdag die drein kom regmaak en teen gister het dit weer oorgeloop.”

Limberg sê: “In 75% van die gevalle van geblokte dreine is dit weens die misbruik van die rioolstelsel.

“Die Stad Kaapstad het verlede jaar R350 miljoen spandeer weens die misbruik van die rioolstelsel.

“Dit is uitgawes wat voorkom kan word deur bewusmakingsveldtogte en gedragsverandering.

“Soms is dit moeilik om die dreine skoon te maak weens protesaksies in sekere areas. Elders word onwettige strukture bo-oor die Stad Kaapstad se infrastruktuur opgerig.

“In sommige gevalle word die personeel van Stad Kaapstad wat die dreine moet skoonmaak, ook aangeval.

“Ten spyte van dié uitdagings het die Stad Kaapstad 122 000 geblokte dreine verlede jaar skoongemaak.”

Volgens Limberg is onwettige­ storting een van die grootste redes vir verstopte dreine. Sy sê inwoners gooi hul afvalstowwe in die toilet of opwasbak weg pleks van in hul vullisdrom.

Limberg sê: “Die Stad Kaapstad sal voortgaan om dienste te lewer en geblokte dreine skoon te maak.

“Die algemene oorsake van die verstopte dreine is ou koerant­papier, nappies, wet wipes, higiëneprodukte vir vroue en ou boumateriaal.

“Menslike afval, toiletpapier en skoonmaakmiddels is ál wat in ’n toilet afgespoel moet word.

“Stormwaterdreine kan ook nie vir storting van vullis gebruik word nie.”

Limberg het ook onwettige aansluitings met die Stad Kaapstad se rioolstelsel en stormwaterdreine as oorsaak vir die verstoppings uitgewys.

Volgens Limberg het die Stad Kaapstad ’n “Bin It, Don’t Block It”-veldtog wat hulle onder die inwoners se aandag bring om verstopte dreine te voorkom.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters