9 dae gelede
Drein gee bejaarde baie pyn
gegrief: Stanley Phelps sê hy het lelik seergekry.Foto’s: astrid februarie  ~ 

’N BEJAARDE man van Happy Valley het laas Dinsdagoggend verskeie beserings opgedoen nadat hy in ’n oop drein geval het.

Stanley Phelps (62) sê hy was op pad om na ’n huurplek te gaan soek toe in ’n oop stormwaterdrein in Buttskopweg geval het.

Tekan

“Daar was geen teken wat my gewaarsku het dat die drein oop is nie en daar val ek in die drein.”

Phelps het beserings aan sy bolyf, arms, voete en een van sy bene opgedoen.

Hy sê hy het verwag dat daar darem ’n teken op sou wees dat die drein oop is, veral in die nywerheidsgebied.

“Ek is ’n volwasse man en ek het dit nie verwag nie, maar met my verwagting was dit klaar te laat,” sê Phelps.

Die beseerde Phelps vertel aan Son nadat hy uit die drein geklim het, het hy van sowat 09:00 tot 13:00 saam met ’n vrou wat hom gehelp het op die hoek van Wimbledon- en Buttskopweg gesit.

“Ek het tot by die polisiestasie gestap. Hulle het my ’n J88-vorm gegee en my na die Blue Downs-kliniek verwys.

“Maar by my aankoms by die kliniek wou niemand my help nie en hulle wou nie eens vir my ’n ambulans bel nie.

“Hulle het ook ’n sekuriteitswag gebruik om my weg te wys.”

Phelps sê weens die pyn wat hy verduur het, kon hy nie eens die hulp van ’n wyksraadslid inroep nie.

Konstruksie

Hy voeg by die mense wat die situasie veroorsaak het, moet aanspreeklikheid daarvoor aanvaar.

Die Stad Kaapstad se mayco-lid vir vervoer, Felicity Purchase, sê sy was nie bewus van die voorval waarin Phelps beseer is nie.

Volgens haar is die sypaadjie op die oomblik onder konstruksie en die bestuurder van die projek, sowel as die kontrakteur, is ook nie oor die voorval verwittig nie.

“Toe die inspeksie van die praktiese voltooiing gedoen is, was alle covers in plek.

“Die praktiese voltooiing kan nie hiersonder goedgekeur word nie,” verduidelik Purchase.

Volgens haar is die betrokke opening intussen met ’n dreindeksel toegemaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters