Verlede maand
Drawwer help ná Covid-seer
GOEIE DOEL: Jumat Witbooi draf vir almal wat ’n geliefde weens Covid-19 verloor het.  ~ Foto Verskaf

BONNIEVALE. – Hy ploeg terug in sy gemeenskap – met sy talent vir draf.

Jumat Witbooi (35) draf deesdae van dorp tot dorp ter nagedagtenis aan mense wat in die Langeberg-streek aan Covid-19 gesterf het.

Witbooi sê hy het nie die virus opgedoen nie, maar het sy pa weens Covid aan die dood afgestaan.

Volgens Witbooi is dit elke keer baie sad vir families wanneer hulle ’n geliefde weens die virus verloor.

“God het my al van kleins af die talent gegee om ver kilometers te draf sonder dat ek by my eindbestemming pootuit is,” sê Witbooi propvol energie.

Witbooi sê wanneer ’n geliefde in hul dorp sterf, kom hul gemeenskap bymekaar en doen dan ’n drive-by vir die oorledene.

Vrede

“Ek het toe besluit om vir dié families van dorp tot dorp te draf uit my respek vir diegene wat God as gevolg van die virus kom haal het.”

Witbooi sê dit bring hom soveel vrede in sy hart wanneer hy elke kilometer aflê ter nagedagtenis aan hulle wat nie meer daar is nie.

Volgens Witbooi het hy verlede week met sy drawwery begin.

Hy het laas Saterdagoggend van Bonnievale tot in Riviersonderend gedraf.

Hierdie Saterdag spring hy in Robertson weg en sal dan in Bonnievale eindig.

“Ek daag mense uit om my te kom join. Hulle kan saam met my draf of op ’n fiets klim en saam ry.”

Hy sê ook enige donasies is welkom. Hy skenk die donasies aan families wat hul geliefdes in dié tyd verloor het.

Mense wat skenkings wil maak, kan Lizell Adendorf by 072 352 4348 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters