5 maande gelede
Drama by hof
Michaela Williams  ~ Foto Verskaf

TOE Michaela Williams se vermeende moordenaar gister in die beskuldigdebank inskuif, het menige mens se bloed gebruis.

“Jy’s ’n vark!” is tydens sy verskyning aan hom geskreeu. “Jy’s ’n gemors!”

Die 48-jarige beskuldigde is aangekla van die ontvoering van en moord op die 12-jarige meisie. Die hof het gelas die media mag hom nie identifiseer nie.

Gekeer

Die beskuldigde het ’n geel Boss T-shirt, vaalgroen tracksuit-broek en leesbrilletjie gedra. Hy was nie skaam om in die rigting van die galery te kyk nie.

In opdrag van landdros Goolam Bawa mag hofgangers nie gedurende sy verskyning enige kommentaar gelewer of op enige manier gereageer het nie.

Dit het die mense wat buite hof 4 gestaan het, nie gekeer om hulle stem dik te maak nie.

Dié wat in die hof gesit het, kon hoor hoe mense skreeu: “Jy, jou n***!” En: “Gee hom vir ons; laat óns hom straf!”

Die beskuldige het hom ooglopend min hieraan gesteur. Hy het reguit voor hom gekyk.

Michaela is op 8 Januarie by Grassy Park se polisie­stasie as vermis aangemeld nadat haar ma haar nie die vorige dag kon opspoor nie.

Die gemeenskap het saam gehelp soek, maar tevergeefs.

Haar lyk is op 9 Januarie in Philippi ontdek.

’n Informant het aan Son gesê die kind is laaste in die beskuldigde se geselskap gesien.

Volgens die persoon het Michaela buite gespeel. Toe haar ma na haar roep, was sy nie daar nie.

Die polisie het bevestig belangrike inligting is opgevolg en die verdagte is vir ondervraging aangehou.

Teruggehou

Die ondervraging het daartoe gelei dat hy aan die polisie uitgewys het waar die meisie se oorskot is.

’n Ander ingeligte het Son vertel die beskuldigde het nie teruggehou nie. Hy het uit sy eie erken hy het die meisie vermoor en vir die polisie gewys waar hy haar lyk gelos het.

Dié informant het ook aan Son gesê die beskuldigde het voorheen 15 jaar tronkstraf uitgedien vir verkragting en is vir good behaviour uit die tronk vrygelaat.

Skêr

Die beskuldigde was net ’n jaar uit op parool.

Die slagoffer in die vorige saak was ’n agjarige meisie.

Sy is verkrag en vir dood agtergelaat nadat die beskuldigde haar met ’n skêr in die hart gesteek het.

Haar ma het buite die hof gesê haar dogter sterk aan, maar die regstelsel en die beskuldigde se parool­beampte het die publiek gefail.

Sy het bygevoeg: “Dit sou nie gebeur het as hy getag was en as die paroolbeampte opgevolg het toe hy nie in Desember opgedaag het om in te teken nie.

“Ek voel ook die parool­beampte het gelieg omdat hy nooit vir my gesê het hy (die beskuldigde) is op parool nie. Hy het nie sy werk gedoen nie.”

Die hof het gehoor die beskuldigde sal nie aansoek doen om borgtog nie. Hy sal op 14 April weer verskyn, maar nie in die hof nie. Hy sal die hofverrigtinge uit Polls­moor via TV meemaak.

Die staat het aangevoer die verslag van die doods­ondersoek, foto’s en witness statements is nog uitstaande. Dis onduidelik of nog klagte by die volgende verskyning bygevoeg sal word.

  • Bawa het die media en publiek gewaarsku tot nader kennisgewing mag foto’s van die beskuldigde en sy naam nie in die media en die sosiale media gebruik word nie.
  • Net voordat die be­skuldigde moes verskyn, het Michaela se ma, Beatrice Adams, ’n panic attack gekry­. Haar familie en vriende moes haar uit die hof begelei.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters