Verlede maand
Dooie in kar gekry
MISDAADTONEEL: Die lyk van ’n hawelose vrou wat in ’n motor buite ’n woonstelblok in Brooklyn gekry is, word van die toneel verwyder.  ~ Leon Knipe

DIE naakte lyk van ’n vermeende hawelose prostituut is in ’n ver­late motor in Brooklyn gevind.

Die lyk van die onbekende vrou is Woensdagmiddag buite ’n woonstelblok in Justinstraat gekry.

Volgens ’n inwoner van die blok woonstelle waar die vrou se lyk gekry is, het hulle gereeld die vrou langs Brooklyn se hoofpad sien staan.

Van die inwoners beweer die vrou het nie blyplek gehad nie en was ’n prostituut.

Een inwoner het die vrou daai oggend gesien. Sy was kaal en het baie siek gelyk.

Die inwoner het vir die vrou kos gegee en ook ’n broek om aan te trek.

Die vrou se kaal lyk is egter die middag in die motor gevind. Sy het op die agtersitplek gelê.

Volgens Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, moet die identiteit en die ouderdom van die vrou nog bepaal word.

Malo sê: “Die vrou se lyk is buite die woonstelblok in ’n Toyota Avanza gekry.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en niemand is nog gearresteer nie.”

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.

  • Die cops het ook intussen vyf verdagtes gearresteer en drie vuurwapens gekonfiskeer ná ’n skietery Woensdagaand in Mitchells Plain.

Die polisie was besig met patrollie in Beacon Valley toe ’n skietery omstreeks 20:00 in Hengelaarstraat plaasvind.

Die polisie het die skote gehoor en ’n onbekende gewonde­ man van die toneel af sien weghardloop.

Volgens Malo het die gewonde man die cops ingelig dat hy geskiet is. Hulle het toe die gebied deursoek.

Malo sê: “Die cops het vyf verdagte mans in ’n motor opgemerk en hulle agternagesit.

“Die mans het uit die motor gespring en probeer weghardloop.

“Die polisie het hulle aangekeer en die motor deursoek.

Gekaap

“Hulle het op drie onwettige vuurwapens en ammunisie afgekom. Die motor, ’n gekaapte voertuig, is ook gekonfiskeer.”

Die mans (van 18 tot 24 jaar oud) sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn.

Hulle word van poging tot moord en van die besit van onwettige vuurwapens, ammunisie en ’n gesteelde voertuig aangekla.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters