Verlede maand
Doodgetrap aan diens
dood: Andries JacobsFOTO verskaf  ~ 

’N WERKER van die Stad Kaapstad is aan diens doodgery terwyl hy besig was om ’n drein reg te maak.

Andries Jacobs, wat in die departement water en sanitasie gewerk het, was op bystand toe die ongeluk Dinsdag om en by 20:40 gebeur het.

Dié ongeluk het op die hoek van Ou Paarl-weg en Eoan Avenue in Kraaifontein gebeur.

Volgens ’n omstander was daar cones in die pad wat motoriste se spoed beperk en aandui daar word gewerk.

Die omstander het aan Son vertel toe hy die eerste keer verby Jacobs ry, het hy die cone uit die pad gehaal sodat hy verby kon ry. Maar toe hy sowat vyf minute later terugkom, het Jacobs op die grond gelê.

Jacobs se dogter, Lizelle Isaacs, van Scottsdene, het aan Son gesê hulle is teen 20:40 van die ongeluk ingelig.

’n Erg getraumatiseerde Isaacs vertel: “Hulle het ons gekontak om ons van die ongeluk te vertel. Hulle wou hê ons moes seker maak dat dit wel my pa is wat daar lê. Toe ons daar kom, was hy alreeds dood.

“Ons weet nie eintlik wat gebeur het nie.”

Volgens Isaacs is haar pa al vanaf die oggend uit die huis en sou eers huis toe kom wanneer hy al sy call-outs vir die nag voltooi het.

Jacobs se kollega, Matthews Tekana, was baie hartseer toe Son gister op die toneel opdaag waar Jacobs gesterf het.

Tekana vertel: “Haai, ek kan nou nog nie glo hy’s dood nie.

“Hy was ’n kerkman en ons het hom altyd ‘brother’ genoem.”

Luthando Tyhalibongo, ’n woordvoerder van die Stad, sê hulle kan bevestig een van hulle werkers is dood.

“Ons is hartseer oor ’n waardige werker se heengaan.

“Ons medelye gaan aan sy geliefdes, vriende en kollegas.”

Tyhalibongo sê die besonderhede rondom die voorval word nog ondersoek en hulle kan dus nog nie in dié stadium kommentaar daarop lewer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters