Verlede maand
Dood vir ’n foon
DOOD: Clayton Pienaar (35) van Elsiesrivier is Dinsdagaand op pad werk toe doodgeskiet toe skollies hom beroof het.  ~ Foto Verskaf

’N ONSKULDIGE pa is Dinsdagaand vir sy selfoon koelbloedig in Elsiesrivier doodgeskiet.

Skollies het Clayton Pienaar (35) in die kop geskiet toe hulle hom wou beroof.

Die voorval het omstreeks 18:20 op die hoek van Carrowmore en Clarestraat plaasgevind. Hy is verskeie kere getref en is op die toneel dood.

Broodwinner

Pienaar, die pa van vier minderjarige kinders, was op pad werk toe toe ’n groep skollies hom beroof en geskiet het. Hy was sy familie se broodwinner en het die afgelope 12 jaar as ’n laseroperateur gewerk.

Volgens sy girlfriend het sy en haar seuntjie (2) nog halfpad saam met hom geloop en hom afgesien.

Die girlfriend, wat verkies om anoniem te bly, sê: “Dit gaan ’n baie swaar Kersfees vir ons wees.

“Hy was altyd die Vader Krismis van die familie en ons sou by sy neef in Blackheath gaan Kersfees hou het. Sy 10-jarige dogtertjie verjaar ook oor ’n week en dit gaan vir ons baie swaar wees.

“Dit voel nog so onwerklik en het nog nie by ons ingesink dat hy oorlede is nie.

“Ek het nie woorde om te beskryf hoe baie ek hom gaan mis nie. Ons is nog baie seer en rou.”

Hulle het Clayton ag keer geskiet en toe sy selfoon gesteel.

Sy beskryf Clayton as ’n lieflike mens met ’n groot hart wat vir sy kinders gelewe het.

  • Nog ’n jong man is gisteroggend omstreeks 07:15 in Avonwood vol lood gepomp.

Die 18-jarige laitie is verskeie kere geskiet en is op die toneel dood.

Volgens Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, word die omstandighede rondom hierdie twee moorde nog ondersoek. Niemand is nog gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters