22 dae gelede
Dood duskant drop-off
stel ondersoek in:Die snuffelhond deursoek die huise vir leidrade.  ~ 

’N NEGEJARIGE leerder is die eerste slagoffer van die vele ontvoerings wat nou voorkom.

Previledge Mabvongwe is Maandag as vermis aan­gemeld.

Sy het nooit by die huis aangekom nie, al het haar vervoer haar naby haar huis in Bloekombos afgelaai.

Dié gr. 3-leerder aan die Primêre Skool Scottsville moes afklim op ’n hoek wat ’n paar meter van haar huis af is.

’n Trok het die pad versper en haar taxi kon nie verder ry nie.

Haar lyk is gister sowat vier huise vanaf dié hoek op ’n oop vlak gevind.

Gister het polisie die huise in Sam Njokozelaweg met ’n snuffelhond deursoek.

Die inwoners was verbaas dat die meisiekind se liggaam reg onder hul neus versteek was.

Een van hulle het aan Previledge se familie gesê: “Welkom in Suid-Afrika. Ons is jammer vir wat met julle kind gebeur het.”

Previledge se oom, Richard Mabvongwe, het aan Son gesê haar ma het flou geword toe sy hoor haar dogter se lyk is gevind.

Sy moes inderhaas hos­pitaal toe geneem word.

’n Hartseer Mabvongwe sê: “Dis baie seer vir ons, maar wat kan ons doen?

“Ons moet dit seker maar aanvaar.”

Gister by Son se besoek aan die Zimbabwiese gesin se huis was lede van Previledge se uitgebreide familie ook daar.

Tragedie

Mabvongwe het aan Son gesê hulle vat dit baie hard.

Hulle woon al tien jaar in Suid-Afrika en het nie gedink so ’n tragedie sou die familie tref nie.

’n Polisiewoordvoerder, sers Noloyiso Rwexana, het gesê polisie-experts en Kraaifontein se FCS-ondersoekspan het die toneel vir leidrade gefynkam.

“Die liggaam is omstreeks 08:40 gevind.

“Die oorledene was steeds in haar skoolklere geklee.

“Sake van moord en ontvoering word ondersoek.

“Speurders vra dat enige een met inligting na vore sal kom en met die ondersoek sal help.”

Rwexana het gesê mense met enige tip-offs kan die ondersoekbeampte, kapt. Loganathan Chetty, by 082 522 1039 bel.

Jeesica Shelver het gesê sy is geweldig hartseer oor wat met klein Previledge gebeur het.

Shelver is die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie­ Schäfer, se woordvoerder.

Shelver sê: “Die adjunk-hoof van die Primêre Skool Scottsville het ons ingelig dat die liggaam gevind is.

“Distriksamptenare was by die skool. Reëlings word getref vir berading en ondersteuning. Ons medelye en gebede is by die leerders, familie en vriende van die skoolgemeenskap.”

As skole enige raad of berading nodig het, kan hulle die kontaksentrum hiervoor by 0800 45 46 47 bel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters