Verlede maand
Dis tyd om Bellville op te knap
Opdollie: Werk aan die kloktoring en die sentrum het hierdie week begin.  ~ FOTO VERSKAF

DIE civic centre en sy ikoniese kloktoring is al langer as 60 jaar ’n baken vir die gemeenskap van Bellville.

Oor die jare het die horlosie gaan staan en die omgewing het agteruitgegaan as gevolg van verwaarlosing en onvoldoende instandhouding.

Die Greater Tygerberg Partnership (GTP), in samewerking met die Stad Kaapstad, het egter ingegryp en besluit dis tyd dat die kloktoring se wysers weer beweeg.

Die projekbestuurder, Eric Smith, sê die GTP het die argitektoniese belang van die welbekende klok­toring raakgesien.

“Ons het in 2019 begin met planne om die toring in ’n werkende toestand te kry en die omliggende park, insluitend die fonteine op die terrein, ’n bietjie te herstel.

“Die projek poog om ’n nuwe, positiewe ruimte vir inwoners­ van Bellville te skep waar hulle bedags of selfs saans bymekaarkom.”

Smith voeg by dat die eerste fase van die ontwikkeling hierdie week reeds begin het. Hulle beoog om teen einde volgende maand klaar te wees.

Volgens hom gaan daar in die eerste fase van die projek nuwe beligting en kunswerke aangebring word.

Smith noem verder­ dat die projek in drie fases opgedeel is met bereikbare doelwitte.

“Die gerestoureerde kloktoring sal bydra tot Bellville se maatskaplike samehorigheid en ekonomiese vooruitgang.”

Marian Nieuwoudt, mayco-lid vir omgewingsbeplanning, verduidelik die GTP is een van die Stad se implementeringsagentskappe om die opknapping van Bell­ville te dryf.

Lewensgehalte

“Die GTP het ’n projekspan saamgestel en geld ingesamel by ondernemings en individue binne die plaaslike Bellville-gemeenskap.

“Die GTP werk aan verskillende projekte op die grond in Bellville wat ontwerp­ is om die lewensgehalte in die omgewing te verbeter.”

Nieuwoudt voeg by dat die projek maar net een van vele is in die Stad se planne om die Bellville-middestad te vernuwe en bevorder.

“Gegewe die kloktoring se prominente plek in die Bellville-burgersentrum, is die restourasieprojek ’n poging om ’n gevoel van burgerlike trots in die Bellville-middestad te herstel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters