Verlede maand
Dis swart op wit
WOEDE: EFF-lede en inwoners van Brackenfell bots drie weke gelede naby die Hoërskool Brackenfell.  ~ Peter Abrahams

DIE rasverwante sage rondom die Hoërskool Brackenfell wil net nie end kry nie.

Nou het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en die hoërskool aangekla van rassisme.

Dít volg nadat ’n privaat partytjie waar net wit matrikulante van dié skool teenwoordig was vroeër vanjaar die nuus gehaal het.

Die SAMRK is van mening die WKOD en die skool moet antwoorde gee oor die bewerings van rassisme.

’n Woordvoerder van die WKOD, Bronagh Hammond, bevestig die departement het Woensdagoggend ’n ope brief met uitgebreide vrae van die SAMRK ontvang.

“Baie van dié vrae val buite die WKOD se mag om op te volg, maar die SAMRK is wel binne sy regte om dit te ondersoek,” sê sy.

“Ons wil dit wéér herhaal en beklemtoon dat die betrokke event ’n privaat partytjie was wat deur die ouers gereël is vir ’n groep leerders en vriende en nié ’n amptelike skoolgeselligheid nie.”

Intussen het voormalige leerders van die skool ’n ope brief aan die skool se hoof en beheerliggaam geskryf.

Hierdie brief lees: “Ons het met groot hartseer gekyk hoe ons skool vir al die verkeerde redes die onderwerp van nasionale belang geraak het.

“Geen skool wil landwyd en wêreldwyd die nuus haal vir die redes wat ons die laaste paar weke gesien het nie.”

Daarin staan ook: “Ons is van mening die enigste manier om agter die kap van die byl te kom, is om ’n afgetrede regter of senior advokaat aan te stel om dit te ondersoek.”

Die brief is ook aanlyn geplaas as ’n petisie.

Dit is tot dusver deur meer as 600 mense onderteken.

  • Die SAMRK gaan die PAC na die gelykheidshof sleep oor die slogan “One settler, one bullet”.

Lede van die PAC het dít na bewering laas Woensdag tydens ’n optog naby die skool gesing.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters