14 dae gelede
Dis nou town teen die city

MEER as 500 informele traders van die besige Town Centre in Mitchells Plain het Maandag saamgekom om hul griewe met die Stad Kaapstad te deel.

Dié business hub wat al meer as vyf dekades bestaan, word volgens die traders misgekyk en hul besighede ly omdat die Stad hulle soos stiefkinders behandel.

Shireen Rowland (55), een van die hawkers, vertel hulle sukkel al langer as agt jaar om dinge in die hub reg te maak, maar hulle het nou die hulp nodig van dié wat hulle eens vertrou het.

“Die Stad het ons so 10 jaar gelede genader en ons so te sê evict. Ons moes toe na ’n ander kant van die Centre skuif om besigheid te doen. Ons het dit so aanvaar omdat hulle ons ’n belofte gemaak het.”

Rowland sê vir die eerste twee of drie jaar het alles glad geloop. Law enforcement was sigbaar, die plek is skoon gehou en daar was nie regtig misdadigers in die omtes nie.

“Skielik het alles ’n turn for the worse gevat.

“Ons het nie meer cops gesien nie, die plek het ’n hotspot vir drugs en prostitusie geword en dis vuil.

Veilig

“Ons het al talle kere probeer om na die Stad uit te reik, maar sonder enige sukses. Ons sien hulle net twee of drie dae en dan disappear hulle weer.”

Volgens die antie het hulle al probeer om dinge self reg te maak en veilig te hou, maar hulle het die law en Stad aan hul kant nodig.

“Wanneer ons as wettige permithouers vir permitte apply en kry, is dit deel van die package dat ons ons dienste in ’n skoon, veilige plek kan lewer.

“Dis dienste wat aan ons verskaf moet word.

“Maar dit lyk asof ons ook nie dít kan regkry nie omdat die onwettige traders meer regte as ons het.”

Rowland verwys na die sowat 200 onwettige traders wat tans in Town Centre staan.

Sy sê veral in die pandemie het hulle begin sien hoe die Stad teen hulle werk.

“Van al die traders het net 13 mense sanitizer gekry. Ons het ook nie gesien hoe hulle die plek ontsmet nie. Hulle het twee keer pictures gestuur, maar dit was ook die enigste keer.

“Wat die Stad nie realise nie, is dat hulle besig is om ons mense meer te beroof omdat almal weet die Centre is die plek vir bar­gains en ons mense kry klaar swaar. Wat gaan gebeur as ons as gevolg van nalatigheid nie meer kan trade nie?”

Rowland sê die fight gaan ook oor Town Centre se ryk geskiedenis.

“Vir baie van ons is Town Centre ’n plek van hoop. Ek sê dit omdat ons, wat jare lank hier werk, ons kinders met Town Centre-geld skool toe en selfs universiteit toe kon stuur. Daar is baie dokters, law­yers en nurses wat uit Town Centre gebore is.”

Die Stad vat dus geleenthede weg van sy mense, meen Rowland.

“Dis nie dat ons nie die spasie in Town Centre waardeer nie; dis die feit dat ons so lank en hard werk om dan van vergeet te word.

“Daarom het ons besluit om ons stem dik te maak sodat hulle na ons luister. Ons gaan nie stop nie totdat ons antwoorde en selfs ’n oplossing kry.”

Die groep het in ’n konvooi van Town Centre na die civic centre beweeg en daar ’n memorandum oorhandig.

Daarmee eis hulle oplossings vir veiligheid, parkering, toilette, krag en onwettige traders.

Vergadering

Grant Twigg, mayco-lid vir stedelike ontwikkeling, bevestig hy het die memorandum ontvang. Hy belowe om binne 14 dae daarop te antwoord.

“Ek sal ook ’n vergadering met die traders organiseer en met verskeie van die Stad se departemente reël om teenwoordig te wees omdat dit kwessies is wat verskillende afdelings van die Stad insluit,” onderneem Twigg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters