2 maande gelede
‘Dis net stories’
vlamme: Die mense is al douvoordag besig om vuur te maak.  ~ 

DIE gemeenskap van Parkwood het gister douvoordag ’n deel van die M5 afgesper met brandende tyres.

Die inwoners sê hulle is gefrustreerd met leë beloftes oor behuising en dis die enigste manier hoe hulle gehoor word.

Die betoging, wat al voor 05:00 begin het, het later ’n groot verkeersophoping veroorsaak vir mense wat uit die suide op dié pad werk toe ry.

Klipgooi

Betogers het rommel, hout en tyres oor en weer karwei en vure aan albei kante van die M5 gemaak.

Die polisie het rubber­koeëls gebruik om van die oproeriges te verdryf wat begin klipgooi het.

Die klipgooiers het die cops getart en geskree: “Skiet, man, ons is nie bang nie. Skiet!”

Die res van die betogers het eenkant gestaan en met Son gesels.

Een betoger het gesê hy trek al ag jaar van plek tot plek omdat hy nie ’n huis kan kry nie.

“Die government dink niks van ons nie!”

Volgens die woordvoerder van die Parkwood Backyard Dwellers Steering Committee­, Narriman Geyer­, is hulle meer as ’n jaar gelede huise belowe.

“Daar word net mooi prentjies vir ons geskets deur die minister, maar niks gebeur nie.

“Dit is hoekom ons vandag ons stemme wil laat hoor,” sê Geyer.

“Die minister was hier en het die nood van ons mense gesien, maar elke keer is dit ’n ander storie.

“Toe ons gisteraand (Woensdag) hoor dat die projek net 80% van ons gemeenskap gaan benefit, was dit net te veel vir die community.”

Vergadering

Sy verwys na die Wes-Kaapse minister van behuising­, Bonginkosi Madikizela­.

Geyer het ook gesê ’n beplande meeting Woensdag met die wyksraadslid William­ Akim het nooit plaasgevind nie.

Akim het aan Son gesê hy het wel vir Geyer deur die adjunk-direkteur van behuising, Natasha van Wyk, in kennis gestel dat die vergadering op 19 Februarie gehou moet word.

Volgens hom is daar op ’n vergadering op 10 Desember aan die inwoners gesê dat 1 950 huise aan Parkwood toegewys is.

Volgens Van Wyk moes die raadslid ’n alternatiewe venue reël vir die vergadering op 19 Februarie en weet sy nie of hy die mense daarvan laat weet het nie. Die projekbestuurder sal ook op die vergadering beskikbaar wees om mense se vrae te beantwoord.

Teen 09:30 was albei kante van die M5 weer oop vir verkeer nadat gemeenskapsaktiviste gevra het dat die protes stopgesit word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters