Verlede maand
Dis manslag, nie moord
Sers. Marlon Appollis Foto: Peter Abrahams  ~ 

DIE lid van die eenheid teen bendes wat na bewering sy partner in die kop geskiet het, sal nie op aanklag van moord teregstaan nie.

Sers. Marlon Appollis, ’n bekende vir sy uitstekende speurwerk in hoëprofiel-moorde, loop hof ná die dood van sy partner, David Hoffman. Hoffman is Saterdagaand dood in wat bronne ’n skietongeluk noem.

Appollis het gister vlugtig in die hof in Franschhoek verskyn. Die klag teen hom is toe verander na strafbare manslag.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het eers ’n moordsaak geopen.

Na wat van die bronne verneem word, het Hoffman by sy skoonmense in Franschhoek gekuier toe ’n jong man by die huis in Skoolstraat ingehardloop het.

Die man het glo van ’n groep jongens af weggehardloop.

Hulp

Hoffman het toe getry om die groep te verjaag en ook die polisie gebel.

Volgens ’n bron het die polisie nie gekom nie en Hoffman het sy partner, Appollis, vir hulp gebel.

Toe Appollis by die huis opdaag, was dinge onder beheer. Hy wou na bewering sy vuurwapen veilig maak deur die knip op te sit.

Dit is toe dat ’n skoot afgaan en Hoffman in die kop tref, verneem Son.

News24 berig Hoffman se vrou en Appollis was baie emosioneel. Albei was daarteen gekant dat foto’s van hom in die hof geneem word.

“Ek het ’n vriend verloor,” het Appollis gesê.

Appollis is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is tot 26 September uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters