5 dae gelede
Dís hoe sersant hoor van ‘Pang’
Moegamat Niezaam “PANG” Moeniers  ~ Astrid Februarie

HY HET homself aan cops geïdentifiseer as “Pang”.

Só getuig ’n sersant in die verhoor van 20 vermeende lede van die Terrible Josters-bende in die Kaapse hooggeregshof.

Hulle staan tereg op altesaam 145 klagte.

Die sersant se getuienis hou verband met die moord op 13 September 2014 in Silwerboomstraat, Delft.

Volgens die klagstaat het beskuldigde nr. 4, Moegamat Niezaam “Pang” Moeniers, die oorledene in die klag en sy vriend by ’n spaza-winkel gekry.

Gevra

Pang het luidens die klagstaat die oorledene met ’n 9 mm-pistool in die gesig geskiet waarna hy dood neergeval het.

Die sersant getuig hy en sy kollega was om 23:30 op die moordtoneel waar hulle mense teëgekom het.

“Ons het gevra wat gebeur het en hulle het na die persoon gewys wat geskiet is.

“Ons het ’n ambulans gebel en die toneel afgesper.”

Hy sê tydens hul ondervraging het ’n man nadergestap en verduidelik wat gebeur het. “Hy het gesien hoe twee mans saam met mekaar gepraat het waarna die een die ander een skiet,” getuig hy.

Ooggetuie

Die sersant getuig verder dat die ooggetuie gesê het hy weet wie die skieter is.

“Hy het ’n adres en naam gegee. Ons het na die adres gegaan en ’n groep mans aangetref. Ons het vir hulle gevra wie is Pang. Dit is toe een sê ‘ek is Pang’.

“Ons het hom gevra of hy weet wat op die toneel gebeur het. Hy het gesê hy weet niks, maar al wat hy weet is dat hy nie die enigste Pang is nie,”

Die saak duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters