17 dae gelede
Dis drankkoors!
BESTORM: Die Delciki-drankwinkel in Belmont Park word gestroop.  ~ Foto Verskaf

DELFT se mense se drankkoors was só hoog dat hulle glad in pajamas by drankwinkels ingebreek het.

Terwyl die gevalle van plundering weer voorkom nes die vorige keer, hou die regering dik. Die verbod op alkohol en tabak sal in plek bly gedurende dié vlak van lockdown.

Die regering het die besluit gistermiddag bevestig.

Dié besluit het ook enige hoop vir restaurante, die wynmaakbedryf en bierbrouerye laat taan.

Die regering het gister getwiet: “Die verbod op die verkope van alkohol en sigarette sal in plek bly regdeur die lockdown.”

Later het iemand dié flater besef en inderhaas laat weet die twiet “is nie korrek nie. Die verkoop van drank en tabakprodukte word verbied op vlak 3.”

Die polisie is Dinsdagaand ontbied na ’n drankwinkel in Delft wat geplunder is en onder meer vroue en huilende kinders aangetref.

’n Video hiervan het in die sosiale media gesirkuleer.

Volgens ’n woordvoerder van die polisie, brig. Novela Potelwa, is 11 volwassenes en 2 kinders gearresteer.

Potelwa sê die groep mense het by die drankwinkel ingebreek en dit rot en kaal besteel.

Sy sê: “Die Wes-Kaapse eenhede vir openbare orde van verskeie polisiestasies in die Kaapse metropool het hul hande vol gehad om vure van openbare geweld te blus.

Bestorm

Volgens die Stad se law enforcement-woordvoerder, Wayne Dyason, het die looting omstreeks 18:00 plaasgevind.

Hy verduidelik: “ ’n Groot groep mense het die winkel bestorm. Toe die lede opdaag, is agt mense in die winkel aangetref.

In Kraaifontein is daar ook gister toegeslaan op al wat ’n drankwinkel is.

Die Diamond- Tops-, Delciki en Shoprite-drankwinkel het erg deurgeloop.

Alle winkels en eetplekke het uit vrees hul winkels vir die res van die dag gesluit.

’n Groep inwoners van Wallacedene wat tans oor grond baklei, het die strate ingevaar toe hulle van die grond afgesit is.

Die inwoners het die grond verlede week onwettig beset.

Die polisie het van die inwoners deur die strate van Belmont Park gejaag.

’n Hele paar van hulle is met onwettige sterk drank in hul besit gevang.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters