Verlede jaar
Dis apartheid se skuld, sê ANC in Wes-Kaap
Kippie Aboubaker van Milnerton pak gister die Wes-Kaapse ANC- leierskorps.Foto’s: melinda stuurman  ~ 

DIE ANC blameer apartheid nou vir die huidige rasse­botsing tussen bruin in­woners en swart plakkers in Mitchells Plain.

Son het gister berig dat bruin inwoners van Mitchells­ Plain hul eiendomme Woensdag teen inwoners van die Siqalo-plakkerskamp langs Jakes Gerwel-rylaan moes beskerm.

Dit was toe dié hul eiendomme gedurende ’n diensleweringsbetoging begin teiken het.

’n Gemeenskapsleier van Siqalo, Monwabisi Futshane, sê egter dis gangsters wat hul betoging geïnfiltreer en die plundery, vandalisme en geweld gepleeg het.

Futshane sê: “Ons het net tyres in die pad gebrand om die Stad Kaapstad se aandag te vestig op ons gebrek aan grond en dienslewering.”

Versoen

Die ANC-leier in die Stad Kaapstad, Xolani Sotashe, het die media gister toegespreek.

Dit was nadat hy, com­rades en verskeie ander rolspelers agter­ geslote deure vergader het.

Sotashe het gesê hulle het besluit om in te gryp om verdere bloedvergieting te verhinder en die inwoners van Siqalo en Mitchells Plain met mekaar te versoen.

Son het hom gevra waarom sê die ANC die inwoners van Siqalo en Mitchells Plain moet verenig, maar hy verenig dan nie met ander politieke partye om dié kwessies te hanteer nie.

Sotashe het gereageer: “Dat ons vyande onder mekaar kan identifiseer, is nie hoe mense veronderstel is om saam te leef nie.

“Dis presies die regime van die verlede wat ons gebring het waar ons nou is. Mense is kwaad.”

Sotashe meen die Stad se administrasie moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat Woensdag gebeur het.

Hy het gesê die Stad moes in die boekjaar 2016-’17 R176 miljoen wat hy nie bestee het nie, teruggee aan die nasionale tesourie.

Vergeet

Sotashe het gesê: “Dis die huidige regering se taak om dienste te verskaf.”

’n Inwoner van Milnerton wat ook die vergadering bygewoon het, Kippie Abou­baker, sê die ANC het bruin mense vergeet.

Aboubaker sê: “Ál wat ek aan die ANC van die Wes-Kaap gaan sê, is moet ons nie uitverkoop nie.”

Eerw. Mark Bloemstein van Mitchells Plain maan politieke leiers om op te hou om kiesers te manipuleer.

Bloemstein sê: “Ons mense­ moet kan sê ons weier om misbruik te word as politieke puppets.”

Futshane het gesê hy voel beter ná die vergadering en vertrou dat sake sal verbeter.

Hy het gesê: “Ons vra dat die Stad die stuk grond waarop ons bly van die private eienaar koop en terwyl ons vir huise wag, minstens toilette oprig en elektrisiteit en water aanlê.”

Sotashe meen die probleme­ in Siqalo is dieselfde as dié elders in die metro.

Hy het gesê: “Ons moet die Stad stabiliteit bied. Laat ons bedaar. Mense kan nie die behuisingswaglys jump net omdat hulle ’n stuk grond beset het nie.”

“Maar water en sanitasie is basiese dienste; daarvoor kan jy mense nie op ’n waglys plaas nie.”

Die sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, Faiez Jacobs, sê dis net ’n gerug dat ’n moskee gedurende die betoging gebrand is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters