Verlede jaar
Dinge click nie
MOERIG: EFF-lede ruk op na N1 City se Clicks-tak om hul ontevredenheid oor die omstrede haar-advertensie te wys.  ~ Peter Abrahams

DIT het gister glad nie geclick vir Clicks nie.

Die Economic Freedom Fighters (EFF) se betogings teen Clicks-takke in die Kaap is behoorlik gevoel.

Die Rooikoppe het die naweek al gedreig om ál 800 takke van dié gesondheids-en-leefstylwinkel te sluit.

Dit volg nadat die winkel swart vroue se hare in ’n aanlyn advertensie-veldtog as sleg beskryf het en wit mense s’n as beter uitgebeeld het.

In ’n foto in een van die advertensies word verwys na die hare van ’n swart vrou as “beskadig” en “dull”.

In dieselfde ad word ’n wit vrou se steil, blonde hare as “mooi” bestempel.

Lede van die EFF was gister voor 09:00 op hul poste.

Gedwing

Hulle het gesorg dat takke soos dié in die Goodwood- en N1 City-winkelsentrum en Gugulethu Square vir eers gesluit bly.

Clicks-takke in die Parow-winkelsentrum en Prome­nade Mall is eventually ook gedwing om te sluit.

Die EFF-lede het aan die deure van die Clicks-tak in N1 City ’n “dringende kennisgewing” gehang.

Dit lui: “Weens ons advertensie wat swart mense se hare uitbeeld as inferior teenoor dié van wit mense, sal hierdie winkel tydelik gesluit wees tot verdere kennisgewing. Groete. Bestuur.”

Die voormalige Wes-Kaapse EFF-voorsitter Bernard Joseph was by die Goodwood-winkelsentrum ter ondersteuning van die betoging.

Joseph sê: “Die manier hoe Clicks die ad campaign aangebied het, kom neer op rassisme.

“Die hare-kwessie kom al jare aan.

“Nieblankes se hare is as inferior beskou in vergelyking met dié van wit mense.

“Die ad sê basies jy moet daai spesifieke shampoo gebruik sodat jou hare soos wit mense s’n kan wees.

“My jitte, ons kan nie in ’n samelewing wees waar wit mense se hare as superior beskou word teenoor dié van nieblankes nie.”

By N1 City het customers hul frustrasie duidelik gemaak aan die betogers toe hulle sien die winkel se deure is gesluit.

Die winkel se personeel­lede het gou hul deure toegemaak toe hulle sien die EFF-lede kom aan.

Clicks het vroeër in ’n persverklaring om verskoning gevra vir die advertensies en het belowe om sy reklamebeleid te verbeter.

Vikesh Ramsunder, Clicks se groep-CEO, het gister in ’n TV-onderhoud gesê twee werknemers wat betrokke was by die advertensie, is geskors.

Ras

Dis die werker wat die advertensie op Clicks se webblad geplaas het en dié se bestuurder wat dit uiteindelik goedgekeur het.

Ramsunder wou egter nie sê van watter betrokke ras die werknemers is nie.

Ramsunder noem verder die winkelgroep se sosiale­media-span bestaan uit twee swart , een wit en een bruin werknemer.

Ramsunder sê: “Ek weet nie hoe die advertensie by hulle verbygeglip het nie.

“Dit is beslis een van die dinge wat deel van die ondersoek sal wees.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters