29 dae gelede
‘Dienste te min’
Betoog: Inwoners van Silversands hou gisteroggend ’n shutdown oor ’n gebrek aan dienste in hulle gebied.  ~ 

’N DAG voordat leerders van die Hoërskool Fairdale by hulle nuwe skool sou intrek, het inwoners van Silversands ’n shutdown gehou.

Die inwoners is glo ontevrede oor daar vir Xhosa-leerders van Mfuleni ’n skool in hulle gemeenskap gebou is.

Die ontstoke inwoners het gisteroggend verskeie paaie en ingange na Silversands met brandende tyres versper.

Hulle het ook vreedsaam met plakkate betoog oor daar nie genoegsame dienslewering in hulle gemeenskap is nie.

Volgens Pakamisa Keswa, woordvoerder van die Silversands-gemeenskap, kla hulle oor die gebrek aan ’n kliniek, gemeenskapsaal, behuising en ’n hoërskool vir hulle kinders in die area.

Gereed

Keswa het ook ontken dat daar spanning is tussen die inwoners van Mfuleni en Silversands oor die tydelike Xhosa-skool in die gebied.

Volgens Elmond Dumali­sile, voorsitter van die Mfuleni Education Forum, is die kinders veronderstel om vandag by die skool in te trek.

Dumalisile sê: “Alles is klaar gereed en die leerders moet net intrek by die skool.

“Daar is klaar onderwysers vir die leerders, asook administratiewe personeel.

“Die leerders moes al Juliemaand ingetrek het en daar was altyd ’n vertraging.”

Volgens Dumalisile deel die leerders van die Hoërskool Fairdale tans ’n skool met die Laerskool Nalikamva in Mfuleni.

Vergadering

Die omgekrapte inwoners van Silversands reken as die meer as 430 leerders by die tydelike skool intrek, daar nie genoeg plek vir leerders van Silversands sal wees nie.

’n Vergadering sou vandag met die leiers van albei gemeenskappe en die Wes-Kaapse onderwysdepartement gehou word om ’n oplossing te vind.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters