4 maande gelede
Dienslewering pla inwoners
BETOOG: Inwoners vaar die strate in oor hulle g’n druppel water kry nie.  ~ Foto Verskaf

INWONERS van die plakkerskamp by Factre­ton kla oor swak diens­lewering en veral die gebrek­ aan water.

Honderde inwoners het onlangs betoog en die strate ingevaar oor hulle nie lopende water het nie en vir dae sonder water moet sit.

Kevin Inglis, ’n gemeenskapswerker, sê: “Die City beweer sy kontrak het geëindig met die maatskappy wat water aan die inwoners verskaf het.

“Die inwoners van die plakkerskamp was dae aaneen sonder water. Dit is nie die eerste keer dat ons sonder water sit nie.”

Volgens Inglis kom die trok net somtyds en dan het die inwoners net water vir twee dae.

Die water is meestal nie genoeg vir al die inwoners nie.

“Hier woon ’n klomp ou mense en kinders. Met die Covid-19 is dit noodsaaklik om water te hê.

“Hoe kan die mense hul hande was as daar nie water is nie?

“Hier is ook nie sanitasie- geriewe nie. Hulle verwyder ook nie die vullis nie.

“Dit is alles faktore wat kan lei tot siektes. Baie van die kinders hier in die plakkerskamp raak siek.”

Die inwoners het ook hul ontevredenheid uitgespreek oor die ophoping van vullis oor daar geen vullisverwydering plaasvind nie.

Hulle sê dit lok rotte en slange na hul huise. Twee giftige Kaapse kobras is al in inwoners se huise gekry.

Begraafplaas

Volgens Kevin Alexander, nog ’n gemeenskapsleier in Kensington, is dit ’n vertrapping van menseregte. Hy sê dis tyd dat die mense opstaan vir hul regte.

Hy sê: “Hulle was sewe dae sonder water en beoog om weer volgende week te betoog.

“Die tydelike kamp vir buitelanders, skaars ’n klipgooi van hulle af in Voortrekkerweg, het water.

“Soms moet hulle water by die begraafplaas gaan haal.”

Volgens Alexander woon daar ongeveer 300 families in die plakkerskamp.

Die inwoners wag almal op huise.

Volgens hom wag van die inwoners al amper 30 jaar vir huise en was voorheen backyard dwellers.

Rdl. Helen Jacobs het bevestig dat die Stad Kaapstad se kontrak geëindig het met die maatskappy wat elke dag water aan die inwoners verskaf het.

Die Stad Kaapstad maak nou van sy eie watertrokke gebruik om vir die mense water aan te ry.

“Hulle gaan nie nou elke dag water kry nie, maar elke tweede dag. Intussen is die Stad Kaapstad besig om na ander reëlings te kyk oor dit privaat grond is en hulle nie lopende water daar kan aanbring nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters