9 dae gelede
Diefstal ’n rooi lig vir projekte
BAIE SKADE: Die diefstal van verkeersligte en -tekens, asook die vandalisme daarvan, kos die Stad Kaapstad ’n klomp geld.  ~ Foto ter illustrasie

DIE diefstal van verkeers­tekens en -ligte en die ­vandalisme daarvan kos die Stad Kaapstad en sy inwoners in die laaste 10 maande reeds R7,7 miljoen aan die herstelling en ­vervangingskoste.

Die Stad is juis bekommerd oor daar so ’n groot toename in diefstal en vandalisme van die verkeerslig-infrastruktuur in alle uithoeke van die stad is. Die volgende gebiede het sover al ­ernstig ­deurgeloop:

  • Hoek van Blaauwberg-weg en Janssens-laan
  • Hoek van Blaauwberg- en Koebergweg
  • Giel Basson-rylaan en in en om Burgundy Estate
  • Potstdamweg naby ­Dunoon
  • Kruising van Plattekloofweg Road en die N7
  • Kruising van Malibongwe-rylaan en die N7.

Felicity Purchase, die Stad se mayco-lid vir vervoer, sê die infrastruktuur word ook male sonder tal gevandaliseer en beskadig tydens ­protes­aksies.

Wat Purchase bekommerd maak, is dat die herstel en vervanging daarvan baie kos, en dié geld moet iewers vandaan kom.

Nóg meer is dat die ­beskadiging daarvan verkeer op die paaie ernstig benadeel en dat veiligheid op die paaie lelik daardeur geraak word.

In baie gevalle moet die geld om dinge te herstel of te ­vervang geneem word uit begrotings waar geld uitgesit is vir toekomstige projekte wat die Stad se mense sou kon bevoordeel.

Purchase sê dié ­soort vandalisme beroof dus die res van die inwoners van vooruitgang.

Die herstelwerk kos die Stad ook tyd wat bitter onnodig is omdat die ­mannekrag elders beter ­aangewend sou kon word.

Sy sê: “Ek verstaan ­inwoners se frustrasie as herstelwerk nie dadelik ­gedoen word nie. Om ons inwoners veilig te hou is ook ons eerste prioriteit en dus maan ek mense om sulke gevalle van vandalisme en diefstal by ons aan te meld.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters