20 dae gelede
Die woorde én water stroom
MOERIG: Genevieve Marques (55) soek ’n droë badkamer.Foto’s JONATHAN LESTRADE  ~ 

SY HET nooit gevra om in ’n waterval te bly nie.

Maar die stout jongens rondom haar flat maak nou dat dit voel asof sy onder een woon en nie meer in haar geliefde flat nie.

Genevieve Marques (55) bly in Belhar se Chestnut Place-fletse.

Sy is verby gatvol van die stout jongens wat so rumoer in hulle ma se flat reg bokant haar kop.

Brand

Die ma bly na bewering nie eintlik meer daar nie, want sy kuier gereeld by haar berk in die woonstelgebou oorkant die pad.

Die seuns gebruik dwelms en is ’n probleem vir die bure. Sowat twee weke ge­lede het daar ’n brand in die flat uitgebreek.

Die probleem het erger geword toe hulle Dinsdag die geyser uit hulle ma se flat gesteel het.

Marques se hele badkamer is nou sopnat van die water. Water lek aanhoudend deur haar ceiling.

Die badkamervloer lê vol koerante.

“Ek het al 15 baddens nat koerantpapier uitgegooi. Dit is mos nie reg wat hulle doen nie.”

Die water lek ook voor op Marques se stoep.

Marques sê sy is ongelukkig oor wat daar aangaan.

“ ’n Mens kan arm wees en in fletse bly, maar jy hoef nie so te lewe nie.”

Volgens haar het die Stad spoedig gehelp nadat die brand uitgebreek het, maar nou sukkel sy om hulle wéér te laat kom.

Siek

Nóg ’n buurvrou, Lucinda Kruger (34), voeg by sy is net so gatvol vir die jongens wat so aangaan.

“Die probleem is dat die ma heeltyd by die berk is en die kinders breek die huis af,” meen Kruger.

Kruger sien om na haar siek ma.

Volgens haar kap die seuns snags goed en dit gee ’n helse geraas af.

Raadslid Johanna Martlow sê hulle weet van die probleem.

“Dit is aangemeld by die Stad. Hulle sal loodgieters uitstuur om die flat te fix.

“Hulle draai net ’n bietjie lank.”

Teen gistermiddag het Marques nog gewag vir die loodgieters. Martlow het gesê sy sal dit aanhou opvolg totdat hulle uitstiek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters