3 maande gelede
Die wet maak K53 gestremd
hopeloos: Tertia Bam se leerlinglisensie verval vandag en sy sê sy gaan beslis nie weer deur die proses om ’n rybewys te kry nie.Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

REGVERDIGHEID is al wat sy vra.

Dis nou al ’n hele ses jaar dat Tertia Bam, van Stellen­dale in Kuilsrivier, sukkel om tog net haar rybewys te kry.

Sy wil net met menswaardigheid behandel word, maar ná ses jaar is die ma van twee óp gesukkel vir daai stukkie papier.

Bam, wat in bemarking en administrasie by ’n eiendomsmaatskappy werk, sê daar word teen haar ge­diskrimineer omdat sy gestremd­ in haar linkerhand is.

Gedruip

Weens ’n probleem met haar pols kan Bam se hand nie oopgaan nie.

Sy sê sedert 2012 het sy die bestuurstoets al omtrent ses keer gedoen – en elke keer gedruip.

Volgens haar het sy seker al R10 000 net op rylesse uitgegee – geld wat sy nooit sal terugkry nie.

Tertia Bam

Bam sê sy het altyd by die Kuilsrivier-toetssentrum gaan uitpasseer, maar vir haar laaste probeerslag is sy na die Brackenfell-sentrum.

Dis hiér waar sy agtergekom het hoekom die wiel nie vir haar wil draai nie.

Volgens Bam het niemand haar voorheen gesê hoekom sy elke keer druip nie.

“Ná die toets verlede maand in Brackenfell is ek vir die heel eerste keer gesê ek kan appelleer teen die besluit om my te laat dop,” sê sy.

“Ek het met die hoof van die appèlafdeling, Quinton Liebenberg, vergader.

“Hy het my gesê die K53 cater nie vir gestremde mense nie.

“Volgens hom móét die examiners my ingevolge die huidige riglyne laat druip, want die huidige toets neem nie mense met gestremd­hede in ag nie.”

Sy sê die probleem is dat sy volgens die K53-reëls altyd minstens een hand op die stuurwiel moet hou – al ry sy in ’n outomatiese voertuig wat vir haar behoeftes aangepas is.

“Dis onmoontlik vir my, want ek kan glad nie my linkerhand gebruik nie,” sê Bam teleurgesteld.

“Hulle kon my mos al van die begin af gesê het, dan sou ek nie my geld gemors het nie.

“Die feit dat die K53 nie vir gestremde mense cater nie, is ook teen die wet.”

Sy sê verder haar learner’s verval vandag (14 Desember) en sy voel nie meer om vir nog ’n toets te gaan nie.

“Ek sal weer van die begin af moet begin en geld eenkant sit, want die lesse is duur,” sê Bam.

“Dit kos enigiets tussen R180 en R200 per driving lesson en ’n mens moet gewoonlik vir tien lesse gaan om gereed te wees vir die toets.”

Sy sê al die “ups and downs” van die hele sage plaas net soveel stres op haar man, Carl.

Vereiste

Richard Bosman, die Stad se direkteur van veiligheid en sekerheid, sê die examiners werk volgens die rig­lyne soos in die wet uiteengesit.

“Dit is noodsaaklik dat sy altyd minstens een hand op die stuurwiel moet hou.

“Die nasionale regering skryf dié vereiste voor.”

Bosman belowe egter om direk kontak met Bam te maak om te kyk of sy departement haar op ’n manier kan help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters