16 dae gelede
Dié weg is ‘pad van die dood’
GRUWELIK: Dis die toneel reg aan die begin van die lockdown toe wetstoepassers lyk-dumpers op heterdaad betrap het.  ~ Jonathan Lestrade

DIE bose bosse van Baden­ Powell-weg langs Valsbaai het die afge­lope jaar reeds ses lyke opgelewer.

Slagoffers word daar met skiet- of steekwonde aangetref. Sommige is onthoof.

Net gisteroggend is daar naby Harare in Khayelitsha op Baden Powell op die lyk van ’n onbekende vrou afgekom.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, is die slagoffer met ’n klomp skietwonde aan haar kop en liggaam gevind.

Rwexana sê: “Sy is tussen die ouderdom van 25 en 30 jaar oud.

“Sy het ’n vaal kortbroek aangehad met bruin sy­kouse onder dit. Sy het ’n wit T-hemp en ’n geel-en-swart top gedra.”

Rwexana vra dat enige persoon wat die slagoffer ken, kaptein Puren asseblief by 079 880 9872 moet bel.

Sy bevestig hulle het ’n moorddossier geopen om die voorval te ondersoek.

Hierdie is nie die enigste moordsaak wat met die bosse van Baden Powell-weg verbind word en wat die SAPD tans ondersoek nie.

In nóg ’n onlangse voorval is Patricia Williams (40) se koplose lyk op 28 Augustus deur haar boyfriend, Neels Tshabalala, op dieselfde pad in Strandfontein aangetref.

Williams was toe reeds ’n maand lank vermis.

Haar kop en klere is later gevind.

In ’n ander voorval is die lyke van ’n man en vrou op 26 Augustus op Baden Powell-weg in Mitchells Plain gevind.

Volgens brig. Novela Potelwa het die polisie handige inligting­ opgevolg wat hulle na die lyke in die Wolf­gat-natuurreservaat gelei het.

“Die lyke was vasgebind en reeds besig om te ontbind”, sê Potelwa.

In Meimaand is die lyk van ’n man gevind – ook op Baden Powell-weg in Valsbaai.

In Maartmaand is die lyk van ’n man in Harare, Khayelitsha, met ’n klomp skietwonde aangetref.

Dis ook op dieselfde stuk pad waar wetstoepassers op koelbloedige moordenaars afgekom het wat lyke aan die dump was – aan die begin van Suid-Afrika se lang lockdown-periode.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters