4 dae gelede
‘Dié veldtog fail’
Doen meer: Lucinda Evans sê die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld is nie genoeg nie.  ~ Jonathan Lestrade

SY GLO nie in 16 dae van aktivisme nie. Sy het opgehou om daarin te glo, want dit beteken niks.

Só vertel Lucinda Evans, ’n baie bekende aktivis vir vroue- en kinderregte, wat haar gevoel is oor die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dit het gister begin.

“Ons praat van 16 dae van geen geweld teen vroue en kinders. Maar dis so disrespekvol vir die ministers om by elke launch laat te wees.”

Sy vra dat die ministers “bietjie meer respekvol moet wees” met die launches oor die gemeenskap gedurig op hulle wag.

Sy vervolg: “Ek dink die regering moet na die party toe kom en tot by die punt kom. Wat van 365 dae van aktivisme? As aktivis sal ek moontlik dan ’n bietjie beter voel oor ons regering.”

Son het haar gevra of sy enige veranderinge sien as dié tipe veldtog gedoen word.

“Die vraag is eerder: ‘Wat het nie verander nie?’ Niks het verander vir ons nie.

“Kom ons kyk na die victim-friendly rooms by die polisiestasies. Is ons regtig ernstig as ons praat van 16 dae van aktivisme?

“Hoeveel polisiestasies het ’n spesifieke desk waar geslagsgebaseerde geweld aangemeld kan word? Maar die teenvraag is natuurlik waar is die budget om voltydse personeel aan te stel om sulke kamers te bestuur?”

Evans sê sy wil die minister van polisie uitdaag om by die Steenberg-polisiestasie te kom kyk hoeveel personeellede daar werk.

Dapper

“Hulle werk onder die mees haglike omstandighede en daar is geen dienste vir vroue nie.

“Laat ek dapper genoeg wees en sê dat die dienste wat vroue, kinders, die LGBTQI+-gemeenskap en selfs mans wat geweld oorleef, benodig, nie in plek is nie.

“Ek wil ook in dieselfde asem sê ons moet ophou om belastingbetalers se geld te mors deur 16 dae van aktivisme van stapel te stuur en eerder ’n moniteringstelsel daarstel.”

Diens

Evans meen die ministers wat kom tydmors en dan nog laat opdaag by dié tipe veldtogte moet eerder in die polisiestasies gaan werk.

“Ek wil nog minister Bheki Cele aan diens sien in die polisiestasie en selfs in die victim-friendly room.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters