2 maande gelede
Die sleepers se moer
SNY 'N LYN: Wanneer skelms klaar die moere en sleepers uitgehaal het, kom laai ’n trokkie glo alles op.  ~ treine

AS JY enige verdagte optrede sien, meld dit aan.

Dít is ’n pleidooi wat Prasa al herhaaldelik gemaak het in sy soeke om ’n einde te bring aan kabeldiefstal en die diefstal of beskadiging van spoorinfrastruktuur.

Dit blyk egter die publiek se inligting word nie baie ernstig opgeneem nie. Verlede jaar het ’n inwoner van Goodwood ’n week lank van middernag tot in die vroeë oggendure langs die spoorlyn gaan sit en kyk hoe mense die sleepers­ en moere steel wat die treinspore aanmekaarhou.

Hy is ondersteun deur nog ’n inwoner. Hulle het saam hul lewe gewaag om foto’s te kry van die skelms wat dié staatsbates steel.

Die man vertel die skurke is goed georganiseerd en gewapen. Son het van die foto’s gesien van die skurke en selfs van die bakkie wat die gesteelde goed in die vroeë oggendure kom wegry.

Albei mans het versoek om anoniem te bly uit vrees vir hul lewe.

Die een man vertel hy het briewe aan Prasa en die Stad Kaapstad gestuur. Hy het selfs na die spoorwegpolisie op Bellville-stasie gegaan. Daar het hulle hom na die Bellville-polisiestasie en die Prasa-gebou verwys.

“Iemand het wel my nommer gevat en ek is gebel. Ek het die persoon gevra om my te kom sien, maar hy het nooit opgedaag nie.

“Die man wou na die toneel kom waar die diewe steel, maar ek het gesê hy kan hulle afsit. Hy moet eers met my kom praat sodat ek hom kon inlig wat aangaan.”

Slaap

Hy vertel nou dat niemand weer met hom kontak gemaak het nie. Hy het nagte daar gelê en selfs met die buurtwag kontak gemaak, maar hulle kon ook nie help nie.

“Hulle het eerder gelê en slaap terwyl ek daar gelê het en die diewe besig was met hul stelery.”

Hy sê die skurke het ál die tools vir hul steelwerk.

“Wanneer hulle klaar die moere en die sleepers uitgehaal het, het ’n trokkie gekom en alles opgelaai.

“Dit was altyd in die vroeë oggendure. Die goed is na ’n scrap metal-plek gevat.

“Ek het verneem die trokkie kom uit Bishop Lavis. Dit het nou stil geraak omdat alles wat hulle kon steel, klaar weg is.”

Hy sê hy het by so baie plekke probeer sê wat aangaan, maar niemand wou help nie. Toe los hy dit maar.

“Selfs die burgemeester se kantoor het my terug na Prasa verwys.”

Hy het nou die saak weer opgehaal toe ’n trein Maandag by die Monte Vista-stasie gebrand en hy die storie aan die Son-fotograaf Peter Abrahams vertel het. Die treinbrand-probleem het in Oktober 2015 begin.

Pendelaars was al gewoond daaraan dat treine laat is, maar sedert die brande begin het, het dinge net erger geraak. Niemand is nog sedert die eerste trein-brande gearresteer nie.

Net een persoon wat die treine oor die Paasnaweek in 2019 aan die brand gesteek het, is na Valkenberg gepos.

Treine het intussen ook weer op die berugte sentrale lyn begin loop nadat die spoorlyn sedert 2019 stil was.

Sinkhuisies

Hoewel daar treine op die Monte Vista-lyn is, is daar nog geen treine op die noordelike lyn tussen Bellville en Wood­stock nie. Dit het Prasa R1,4 miljard gekos om die sentrale lyn weer oop te kry, maar dit loop net tot by Langa.

Plakkers het intussen ook hul sinkhuisies op die spoorlyne opgesit, wat dinge net erger maak. Die enigste tyd dat dit veilig was om trein te ry, was tydens sokker se Wêreldbeker in 2010.

Prasa het teen druktyd nog nie op Son se navrae gereageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters