13 dae gelede
Die gety draai
TOE: Melvin Volkwyn voordat hy in die tronk ’n nuwe blaadjie omgeslaan het.  ~ Foto Verskaf

DIE gay haarkapper van Eersterivier wat hof loop vir die moord op ’n kind, blom vandat hy in die Goodwood Gevangenis aangehou word.

Melvyn Volkwyn het gister in die Blue Downs Landdroshof verskyn vir die moord op Orderick Lucas (1) van Eersterivier. Die kind se ontbinde lyk is in ’n drein om die draai van sy ouma se huis gevind.

Sy ma, Davideen Lucas, het hom op 25 Maart in Volkwyn se sorg gelaat.

Die twee was toe koptjommies en het on occa­sion saam drugs gebruik.

Volkwyn het gister in sy swart langmouhemp en ’n vars boy’s cut gelyk soos ’n kerkbroer wat op pad is kerk toe.

Die blonde hare waarmee die haarkapper in hegtenis geneem is, is iets van die verlede, blyk dit, en sy gesig is voller. Volkwyn het mooi gesmile vir sy familielede in die hofgalery.

Die hof het gehoor die saak is gereed om in die Kaapse hooggeregshof aangehoor te word.

Die saak is in Februarie in dié hof vir voorverhoor.

Die verhoor sal na verwagting in April begin.

Davideen en Kounkou Dziendelet, Orderick se pa, was by die hof.

Ook Davideen het ’n ander blaadjie omgeslaan.

Sy vertel sy is nou skoon nadat sy ’n rehabilitasieprogram voltooi het.

Davideen sê: “Ek was vier maande in die sentrum.

“Ná dit kry jy twee weke by die huis.

“As jy sonder dwelms daardeur kom, is jou rehabilitasie halfway klaar.”

Sy word steeds elke maand vir drugs getoets, maar sy het deur die program ook op ’n wynplaas werk gekry.

Davideen het bitterlik gehuil toe sy Volkwyn sien.

“Is nie dat ek wraakgedagtes het nie, maar ek word net so hartseer as ek hom sien. Hy kyk verby my en lag met sy familie. En ek wil nog altyd net weet hoe hy dit kon gedoen het.”

Dziendelet sê hy word kwaad as hy Volkwyn sien.

Die paar se tweelingseuns (6) is in foster care. Davideen sê hulle het die kids verlede maand met hulle graduation gesien.

“Die proses is nog aan die gang om hulle weer by die huis te kry. Ons gaan aan en ons hou ons koppe bo die water.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters